Buurman snel gesin te hulp toe dogter (4) verstik

Dit is menige ouer se grootste vrees dat hulle kind ernstig seerkry, en vir Chenel Duvenhage en haar man, Alex, het hierdie vrees verlede Woensdagaand amper 'n werklikheid geword.

POLOKWANE – Chenel en Alex was in die kombuis besig terwyl hulle drie jong kinders aandete geëet het.

“Lu-May (4) het verstik en van haar stoel afgeval. Alex het met haar gepraat en toe sy nie reageer nie, het hy nader gestap. Toe hy haar optel, het haar lyf begin ruk. Ons het vermoed sy verstik aan ‘n stukkie brood en Alex het sy vinger in haar keel gedruk in ‘n poging om die blokkasie te stop.”

Die gesin se buurman is Dawie Jacobs, ‘n skofbestuurder by EMS Limpopo.

Chenel het kop gehou en onmiddellik na sy huis gehardloop om hulp te kry.

Hy was op daardie oomblik by ‘n ander buurman, maar die boodskap het hom vinnig bereik en toe Chenel by die huis kom, was hy kort op haar hakke.

Dawie sê hy het eers gedink een van die kinders is raakgery. “Teen die tyd dat ek by Lu-May gekom het, was sy blou in die gesig en heeltemal pap.”

Terwyl Dawie mond-tot-mond asemhaling toegepas het, het ‘n kollega, Joost Swanepoel, op die toneel aangekom.

“Ek was op pad werk toe en het dadelik na Dawie se huis gery. Toe ek daar stilhou het Lu-May reeds weer asemgehaal. Ek het vir haar suurstof toegedien voor ER24 en die Polokwane Ambulansdienste gesorg het dat sy by die hospitaal aankom.”

Alhoewel hulle aanvanklik gedink het Lu-May verstik, blyk die rede vir haar aanval ‘n ander oorsaak te hê.

“Sy is opgeneem in Mankweng Hospitaal en moes toetse ondergaan om te kyk waarom sy die aanval gekry het. Ons is baie dankbaar vir Dawie se hulp en die diens by die hospitaal was baie goed.”

Teen Maandag was Lu-May weer by die huis en al wat sy van die voorval oorgehou het is ‘n kneuswond teen haar slaap soos sy van die stoel afgeval het. Sy sal later verdere toetse ondergaan sodat dokters kan bepaal wat die rede vir die aanval was.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group
Exit mobile version