Local News

Ni-Marié (17) is ‘n trotse ridder

Ni-Marié Bierman (17) is onlangs gekies om aan die Western Mounted Games Nasionale Kampioenskappe deel te neem.

POLOKWANE – Sy het op ‘n kleinhoewe grootgeword en vir haar vyfde verjaarsdag ‘n perd, Chappies, as geskenk ontvang.

Chappies was haar eerste liefde en sedertdien is sy onafskeidbaar van haar perde, waarvan sy tans drie versorg.

Cash me on the Outside is ‘n vyfjarige merrie wat se skof hoër is as wat Ni-Marié lank is. Blue’s Romance is ‘n volbloed merrie en My Free Spirit is net so oud soos Ni-Marié.

Sy en My Free Spirit, wat deur Ni-Marié se familie gered is na hy verwerp is, is onlangs gekies om aan die Western Mounted Games Nasionale Kampioenskappe deel te neem.

Hierdie kampioenskappe vind vanaf 2-5 Oktober in Parys plaas.

“Ek werk al vir baie lank om vir die elite-span gekies te word. Daar is slegs 50 ruiters uit al die ouderdomsgroepe in vlak drie en vier, wat vir hierdie span gekies word en dus is dit ‘n groot eer. Daar is slegs twee Limpoporuiters wat gekies is.”

Ni-Marié se ma, Elmari, sê haar oudste dogter is dankbaar om uiteindelik in dié span opgeneem te word. “Sy werk al drie jaar om hierdie droom te verwesenlik.”

As sy haar sin kon kry sou Ni-Marié elke dag by La Grande Equestrian Centre saam met haar perde deurbring. Sy, onder die bekwame leiding van afrigter Michaela Joubert, hou daarvan om haar perde self op te lei.

Ni-Marié neem in verskeie perdrydissiplines deel en stel die welstand van haar perdekinders eerste. Niks ontstel haar meer as ‘n ruiter wat sy of haar prestasie bo die welstand van die perd stel nie.

Dressuur en skouspring was Ni-Marié se eerste liefde, maar nadat Blue’s Romance tydens ‘n fratsongeluk haar agterbeen se ligamente geskeur het en nie meer mededingend kon spring nie, het Ni-Marié met Western Mounted Games begin.

Elke keer wat sy met ‘n ander perd begin meeding, moet sy weer by vlak een begin. “Ek is trots as my perd iets regkry, want ek weet dit is as gevolg van my harde werk. Ek hou baie van die verhoudings tussen my en die perde. Elkeen is uniek en kosbaar en met jou perd kan jy jou hart uitpraat.”

Ni-Marié noem om ‘n perd aan die dood af te staan is vir haar die slegste deel van perdry. “Ziggy, ‘n Appaloosa-ponie, het vir my baie geleer. Ek het hom in die laerskool gekry en hy is onlangs dood aan ‘n beroerte. Dit was baie sleg.”

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

Related Articles

Back to top button