Verbod gaan verbruikers mootlik die slag laat voel

Vleissentraalafslaer Riempies Victor verduidelik dat geen beeste vir 'n tydperk van 28 dae verskuif mag word nie behalwe in die geval waar die dier na 'n abattoir toe verskuif word, en in so 'n geval moet 'n permit vanaf 'n staatsveearts bekom word.

MOKOPANE – Uitbrake van bek-en-klouseer het die Departement van Landbou verlede week genoop om ‘n verbod op die verskuiwing van beeste aan te kondig in ‘n poging om verdere verspreiding van dié siekte hok te slaan.

Ekstra maatreëls is ook ingestel sodat inentings op datum gebring kan word.

Vleissentraalafslaer Riempies Victor verduidelik dat geen beeste vir ‘n tydperk van 28 dae verskuif mag word nie behalwe in die geval waar die dier na ‘n abattoir toe verskuif word, en in so ‘n geval moet ‘n permit vanaf ‘n staatsveearts bekom word.

Geen beeste mag opgeveil word in die interim nie, terwyl wild-, bok- en skaapveilings mag voortgaan.

“Die Mokopanetak hou gewoonlik 12 beesveilings per week wat nou gestaak is tot einde Augustus. Dit is ‘n groot slag vir beesboere en afslaershuise,” verduidelik Victor.

Die bek-en-klouseer epidemie het vir seker ‘n invloed op boere in die omgewing, het Distrik Landbou Unie voorsitter Floris Booysen bevestig.

“Dit is nou vir ons moeilik om vee te skuif van een eiendom na ‘n ander. Die boere se voervloeiprogramme is deurmekaar en dan natuurlik ook die kontantvloei. Van die boere verkoop beeste maandeliks ter wille van oorlewing.”

Hy verduidelik dat bek-en-klouseer elke landsburger in hierdie stadium beïnvloed.

“Die inperking is een ding, die verbod en die siekte as sulks en die gevolge van die siekte is ‘n ander.”

Hy sê alhoewel beesboere nie regtig ‘n keuse in die saak het nie, is die verbod wel ‘n sinvolle keuse, want “daar is nie ompaaie of kortpaaie met hierdie epidemie nie”.

Hy voeg by dat dit belangrik is om die regulasies van die inperking so vinnig as moontlik in plek te kry sodat die diere geïsoleer en die siekte uitgeroei kan word.

“Dit is nie altyd moontlik om die skuif van vee in die praktyk te keer nie. Daar is gebiede waar daar nie baie dissipline is nie.”

Booysen het die hoop uitgespreek dat alhoewel daar altyd ‘n risiko bestaan, die siekte nie sy voete tot in dié area sal vind nie.

“Indien die siekte nie doeltreffend en vinnig onder beheer gebring word nie, gaan vleisuitvoere gestaak kan word, wat weer langtermyngevolge het. Dan het ons groot moeilikheid in die beesbedryf en die veemark en dit spoel oor na al die ander sektore toe, wat graanboere insluit.”

Hy verduidelik verder hoe die siklus afwentel.

“Die huidige verbod is drasties vir boere wat afhanklik is van hulle diere vir kontantvloei. Ons kan ook nie speenkalwers lewer nie, so ons is vir ‘n maand uit die bedryf uit. Daardie beeste moet iewers weer gekoop word en gewoonlik word die pryse dan ook beïnvloed. Wanneer ‘n boer vir drie maande nie beeste kan bemark nie, is daar nie altyd dadelik kopers of koopkrag nie. Uiteindelik gaan daar ook ‘n agterstand ontwikkel in terme van vleisvoorsiening. Die voerkrale funksioneer normaal, maar die hokkie raak leeg. Alhoewel daar beeste geslag word, kry hulle nie nuwes in nie. Die verbruiker gaan hierdie slag eers later voel.”

‘n Boer in die omgewing, Willie O’Brien, het bygevoeg dat die verbod die land en die beesbedryf oneindige skade berokken.

“Botswana en ander lande se grense is toe vir enige bees- of vleisinvoere omdat hulle openlik verklaar dat Suid-Afrika nie bek-en-klouseer ernstig opneem en die wette streng toepas nie.”

Hy sê alvorens dié kwessie nie by die oorsprong aangespreek word nie, sal daar nie ‘n oplossing kom nie. “Soos met die Covid-19-pandemie wat ernstig aangespreek is, moet krale, trokke, enige beeshanteringfasiliteite, sonder uitsondering minstens weekliks behoorlik ontsmet word.

“Besmette beeste of waar daar ‘n vermoede van infeksie is, moet dadelik van kant gemaak word. Die wette en reëls is daar, maar dit word nie streng toegepas nie. Ek dink swak bestuur is die probleem.”

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group
Exit mobile version