Boere benodig bystand na veldbrande verwoesting saai

Bykans 20 boere op plase in die Polokwane-, Mokopane- en Zebedeliagebied is platgeslaan nadat verwoestende wegholbrande hulle bees- en wildweiding verlede week vernietig het.

POLOKWANE – Hierdie boere het nou geen ander keuse as om by welwillende landsburgers en besighede om hulp aan te klop nie.

Die landbou-organisasies Agri Limpopo en Agri Letaba het dit op hul skouers geneem om skenkings te werf wat dié boere in nood tydelik kan help en het onderneem om ‘n rekening vir hierdie doel te bestuur en die toekenning en verspreiding van donasies te hanteer.

Volgens Afri Limpopo se administrateur, Naomi Excell, het ongeveer 30 000ha se weiding afgebrand, een woonhuis is vernietig en ongeveer 2 000 beeste en 1 800 wild geraak nadat hul weiding vernietig is.

Die reënseisoen in hierdie omgewing breek gewoonlik eers gedurende Oktober of November elke jaar aan en die diere het voer nodig vir die volgende twee maande en volgens Excell word 15 tot 20 grasbale per week per bees en 15 tot 20 grasbale per wildsbok benodig. Vir koedoes, wat blaarvreters is, behoort ongeveer 15 lusernbale per dier genoegsaam te wees.

“Grasbale kos ongeveer R80 elk, terwyl lusern ongeveer R128 per baal kos,” bereken Excell.

Die geskatte totale koste op minimum behoefte beloop R240 000 vir grasbale teen 15 grasbale per bees, R120 000 teen 10 grasbale per wildsbok en R64 000 vir 10 lusernbale per koedoe en die boere kan hierdie uitgawe wat in total ongeveer R424 000 beloop, nie bekostig in die lig van die huidige ekonomiese klimaat nie.

Volgens een van die boere wat al sy weiding in die brande verloor het, het die warm weer en sterk winde bygedra tot die vinnige verspreiding van die brande en hoewel die boere ‘n verbete poging aangewend het om hul eiendom te red, was dit tevergeefs.

Winde van tot 40km/h het die brande volgens dié boer aangedryf en het die vlamme tot 50m gespring en net verder gebrand. ‘n Inwoner van een van die plase wat geraak is, het groot skade gely toe voertuie waaraan hy gewerk het, ook beskadig is en ‘n huis het afgebrand.

Veevoer kan op die plaas Smitsdrif buite Zebediela afgelewer word en geldelike donasies kan in Agri Limpopo se bankrekening by FNB nommer 62600294087 (taknommer 050 155) inbetaal word en skenkers word versoek om Fire en hul kontaknommers as verwysing te gebruik.

Die GPS-verwysing vir die plaas is https://goo.gl/maps/JkNvCooQZ4KRc8Rs8 en verdere besonderhede is van Agri Limpopo se Deidre Carter by 082 831 9168 verkrygbaar.

Excell het skenkers by voorbaat bedank en bevestig dat streng kontrole oor die verspreiding van die skenkings deur Agri Limpopo gehandhaaf sal word.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group
Exit mobile version