Visvang is terapie vir PLS se Zulieke

Zulieke Bronkhorst (13) is tuis langs die viswater.

POLOKWANE – Talle hengelaars sal vir jou vertel hoe hulle langs die viswaters ontspan en vir ‘n wyle van al hulle probleme vergeet. Met dit ingedagte beoog die 13-jarige Zulieke Bronkhorst om na skool ‘n sielkundige te word en visvang deel van haar terapie te maak.

Hierdie leerder van Pietersburg Laerskool, wat deel uitmaak van die Double Trouble-span, het langs die viswaters grootgeword en op die ouderdom van twee, reeds haar eerste visstok gekry.

“Ek het gereeld saam met my ouers en my oupa, Bok Bronkorst, gaan visvang. Die grootste karp wat ek al uitgetrek het was 8.5kg en die grootste baber was 8.7kg. Ek geniet dit baie om met die vis te stoei tot dit langs my op die oewer lê.”

Sy geniet dit nie om lank te wag vir die vis om te byt nie, maar as hulle eers byt, haal sy hulle met gemak uit.

Haar gunsteling plek om vis te vang is by die Nyldam in Mokopane en sy hou haar geheime resep vir sukses juis dit – ‘n geheim.

Zulieke en nege ander hengelaars van haar skool, is onlangs gekies om aan die Suid-Afrikaanse kampioenskappe vanaf 6-9 Oktober by Bloemhofdam deel te neem.

“Visvang is my stokperdjie. Ek was verras, maar tog opgewonde, toe ek hoor ek is gekies om aan hierdie kampioenskappe deel te neem. My raad aan ander vissers is dat hulle, hulle bes moet probeer. Dink aan visvang as ‘n stokperdjie, nie as ‘n kompetisie nie en geniet dit wat jy doen met oorgawe.”

Lees meer oor Zulieke se spanmaat, Temicke Kruger, in die Polokwane Review.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group
Exit mobile version