Local News

Arenda sterk tuis aan na noodoperasie

Arenda Pieterse (54) is volgens haar dogter, Elma, 'n besonderse mens met 'n omgeehart.

POLOKWANE – Juis daarom was dit vir Elma moeilik om te sien hoe haar ma die afgelope paar maande vreeslike pyn en ongemak op haar maag ervaar het, wat ‘n noodoperasie op 1 Augustus afgedwing het. “Na verskeie doktersafsprake en toetse is daar gevind dat my ma ‘n gewas op haar kolon het wat aan haar blaas vasgegroei het. Dit het op sy beurt veroorsaak dat daar ‘n verharding aan die agterkant van haar blaas gevorm het, en haar maagsappe kon in haar blaas ingeloop het.”

Teen dié tyd kon Arenda omtrent nie meer haar blaas gebruik nie en is ‘n noodkolonoskopie uitgevoer. Die dokters wou haar onmiddellik opneem om die blaas te herstel en die gewas te verwyder nadat hulle die uitslae van haar kolonoskopie gekry het.

“Die groot probleem was die posisie van die gewas en die komplikasies met die blaas,” verduidelik Elma en noem dat Arenda nie aan ‘n mediese fonds behoort of ‘n hospitaalplan het nie. Aangesien haar toestand baie dringend was, wou Arenda se dokter en gesin dit nie waag om haar na ‘n staatshospitaal te neem nie. Behalwe dat hulle weer al dieselfde toetse sou wou doen en daar nie regtig tyd daarvoor was nie, was die dokter onseker of die staatshospitaal die bronne het om die prosedure te behartig.”

Die familie het eers ‘n kwotasie vir die totale koste by Life Eugene Marais Hospital in Pretoria gekry voordat sy ingeboek is.

“Dit was ongeveer R200 000. Tussen my, my ma en haar verloofde, het ons die geld bymekaargemaak om haar in te boek. Die dokter het ons voorberei vir ‘n operasie van ongeveer twee en ‘n halwe ure en dit is ook waarvoor hy ons kwoteer het. Die operasie het op die ou einde vyf ure lang geduur en ons was glad nie voorbereid daarvoor nie. Gelukkig was die operasie ‘n sukses en sy word elke dag gesonder. Sy was vir ‘n week in die hospitaal en sterk nou aan by die huis,” vertel Elma.

Daar is nog baie koste wat gedek moet word, wat die toekomstige besoeke aan die fisioterapeut insluit. Arenda sal ook chemoterapie moet ondergaan om te verseker dat al die kankerselle dood is. Arenda gee om vir haar medemens en het al vele matriekafskeidrokke gemaak vir meisies wat dit nie kan bekostig nie.

“Haar passie is naaldwerk en behalwe vir die matriekafskeidrokke, maak sy ook klere vir babas en enigiemand wat by haar aanklop. Sy doen ook herstelwerk aan klere en is nie bang om te help daar waar nood is nie.”

Die uitstaande rekeninge is tans meer as wat die familie kan behartig en dus het hulle besluit om ‘n Backabuddy rekening te skep waarin mense geld kan inbetaal om hulle te help: www.backabuddy.co.za/champion/project/arenda-pieterse

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

Related Articles

Back to top button