Staat gryp in na 116 gevalle van bek-en-klouseer

Die minister van landbou, Thoko Didiza, het die beweging van beeste aanvanklik vir 21 dae opgeskort.

POLOKWANE – Nadat 116 gevalle van bek-en-klouseer (FMD) teen Dinsdag in Limpopo, Mpumalanga, KwaZulu-Natal, Noordwes, Gauteng en die Vrystaat aangemeld is, het die minister van landbou, Thoko Didiza die beweging van beeste, met uitsondering van vee wat na geregistreerde abattoirs vir slagdoeleindes vervoer word of vir rituele doeleindes gebruik gaan word, aanvanklik vir 21 dae opgeskort.

Die oogmerk van hierdie ingryping is volgens die department om die verspreiding van die siekte te keer en tegelykertyd geleentheid te bied om inentings te versnel en die aanduiding was dat ‘n gepaste proklamasie later in die Staatskoerant gepubliseer sou word.

Geen beeste mag verskuif word vir verkope, skoue, lobola of in voerkrale anders as direk na ‘n slagpale nie en uitvoere word ook verbied.

Die enigste diere wat tans deur die verbod geraak word, is beeste.

Skape, bokke en varke word nog nie geraak nie en wild wat in veilingsbomas aangehou word, val ook nie binne die verbod nie, aangesien die beweging van buffels baie streng beheer word en die diere behoorlik vir FMD getoets word.

Die departement het gemaan dat die beweging van ander hoefdiere met groot versigtigheid hanteer moet word en dit is van kardinale belang dat biosekuriteit gehandhaaf word deur onder andere diepreiniging met ‘n middel soos ACT LA, wat vir gebruik teen FMD geskik is. Dit is veral noodsaaklik wanneer diere met ander diere in aanraking gebring word en dit is beduidend dat oordrag meestal geskied deur maganiese en nie-lewende blootstelling.

Die verbod gaan alle boere, maar veral kleinboere, erg beïnvloed omdat hulle hul vee meestal informeel en op veilings bemark, maar die situasie kan ingrypend versleg indien dit toegelaat word dat die siekte verder versprei.

Toe grootskaalse bek-en-klouseer in November 2019 in Suid-Afrika aangemeld is, het Namibië, Botswana, Mosambiek en Zimbabwe alle invoer van voedsel wat vleis van hoefdiere bevat, verbied met nadelige gevolge vir die Suid-Afrikaanse ekonomie.

TLU SA het ook reeds gewaarsku dat die instelling van ‘n invoerverbod deur buurlande, verreikende gevolge kan hê. “Nie net is ons internasionale bek-en-klouseer vrye status daarmee heen nie, ander landbouprodukte sal ook geraak word,” meen TLU SA.

Mense kan met bek-en-klouseer besmet word deur kontak met besmette diere of hul produkte, maar dit gebeur bitter selde omdat die virus wat bek-en-klouseer veroorsaak, sensitief is vir maagsuur en dit dus vernietig word wanneer dit in die spysverteringstelsel opgeneem word.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group
Exit mobile version