Local News

Andries Vermeulen inspireer vroue om aan te hou roep

Pastoor Andries Vermeulen het vroue by 'n glansgeleentheid, van DDKK Prokureurs, meer van sy lewensreis vertel.

POLOKWANE – Elke jaar hou DDKK Prokureurs een dag uit om die vroue in die gemeenskap te bederf en te bemagtig.

Hulle kies die datum so na as moontlik aan Vrouedag en kry ‘n motiveringspreker om met hulle kliënte en ander genooide gaste te gesels. Hierdie jaar het die glansgeleentheid op 10 Augustus plaasgevind en pastoor Andries Vermeulen het die vroue meer van sy lewensreis vertel. Hy deel sy verhaal kortliks deur te begin vertel hoe hy reeds op sewejarige ouderdom op straat gebly het.

“Ek het kos uit asblikke gesoek en soms in iemand se erf ingegaan om myself met die tuinslang se water te was. Ek moes dikwels brood steel net om iets in my maag te kry. Gereeld het ek by ‘n verkeerslig gestaan met ‘n hart en siel wat flenters was, terwyl ek só begeer het om in een van die warm, veilige motors wat verby my ry te wees.”

Hy sê op nege was sy grootste wens om R100 te kry om nuwe skoene te koop. Die welsyn het hom van die strate af gaan haal en in ‘n koshuis in Redelinghuys laat woon. Hiér het hy ‘n juffrou ontmoet wat hom gevra het of hy Jesus ken. “Ek het erken ek weet niks van Hom af nie, en sy het my van Hom begin vertel. Só het ek geleer wat is die rede vir my bestaan. Sy het my van die Bybel geleer en hoe om lief te hê. Sy het ‘n nalatenskap van karakter en geloof in my hart agtergelaat.”

Hierna verduidelik Andries hoe elke ma en ouma se geloof ‘n impak op haar kinders en kleinkinders se lewens het.

“Moenie ophou bid vir die mans en kinders in jou lewe nie. Wie gaan vir hulle bid as jy ophou? Lê hulle voor die kruis neer.”

Andries sluit af met die staaltjie van Armand van Armenië wat na ‘n aardbewing saam met 13 maats onder die rommel vasgevang was. Hy het vas geglo sy pa sal hom kom red en na hoeveel dae het Armand steeds aanhou roep totdat sy pa hom gehoor en hulle gered het.

“Moet nooit ophou roep nie. As jou man nie vir God aanbid nie, moet jy vir God bid. Jy as vrou is die hartklop van die samelewing. Jy is die dogter van die Allerhoogste God. Jou identiteit is as vrou wat God perfek gemaak het en met rede geskep het. Jy moet self die storms in jou lewe teen die kruis se voet gaan neerlê. As jy jou ore uitleen aan die vyand, kan dit jou lewensreis beïnvloed.”

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

Related Articles

Back to top button