Paartjie vind liefde op die oudag

Tannie Diana Kruger en oom Willie Bloem het op 3 Augustus verloof geraak.

POLOKWANE – Met oë wat blink kyk tannie Diana Kruger kort-kort na haar ringvinger. Dié vinger was vir baie jare sonder enige ringe, maar nou glinster ‘n verloofring in die son.

Soos dit ‘n vrou betaam wil tannie Diana nie haar ouderdom bekendmaak nie en noem sy net dat sy in haar 60’s is. Langs haar sit die rede vir die glimlag op haar gesig – Willie Bloem (70).

Dié twee woon in Martha Hofmeyr en dit is ook hier waar hulle ontmoet het.

“Ek het eers in saal D gebly en toe word ek na saal A geskuif. Ek het in die eetsaal ingegaan en vir Diana alleen sien sit. My aanknopingspunt vir die gesprek was om vir haar te vra of sy dalk rook. Sy het toe sommer aangebied om vir my te wys waar ons mag rook.”

Só het ‘n vriendskap tussen die twee begin en het hulle agtergekom hoeveel belangstellings hulle deel.

Belangstellings soos die natuur, visvang en liefde vir diere is nie al wat hierdie paartjie in gemeen het nie. Beide het hulle wederhelftes aan die dood afgestaan, beide het ‘n beroerte oorleef en na die beroerte is albei se linkerkant aangetas. Altwee het ook gedink hulle sal nooit weer trou nie.

Oom Willie is in ‘n rolstoel en tannie Diana loop met behulp van ‘n loopraam.

Hulle begin elke oggend deur saam in die tuin te sit en die voëltjies dop te hou, en om die dag af te sluit bel hulle mekaar.

“Ons het vir mekaar ‘n belofte gemaak om nie te gaan slaap sonder dat ons met mekaar oor die foon gepraat het nie. Die lewe is te kort; ‘n mens moet vir die mense wat jy lief het, sê jy het hulle lief,” sê oom Willie. Die twee het op 3 Augustus verloof geraak en oom Willie verduidelik oor die besluit: “Ons het winkels toe gegaan en by ‘n juwelierswinkel ingegaan. Hier het ek vir haar gesê sy moet vir haar ‘n ring kies.”

Tannie Diana vertel sy sien uit na die troue. “Ons moet eers geld bymekaarmaak so ons het nog nie ‘n datum nie.”

Tannie Diana het vier kinders en drie kleinkinders en oom Willie spog met twee kinders en vier kleinkinders. Hulle altwee sê die kinders ondersteun hulle.

Op die vraag wat is vir hulle spesiaal van mekaar antwoord tannie Diana ‘daardie blou-oë’ en hoe hulle lekker saam kan lag. Oom Willie kyk so paar sekondes vir sy verloofde voor hy sê sy luister altyd na hom en gee hom raad.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group
Exit mobile version