Local News

Eldine staan haar plek vol in die hof

Vir Eldine van der Walt is die hof een van haar gunsteling plekke om te wees, behalwe vir die plaas waar sy grootgeword het.

POLOKWANE – Vir die meeste mense is die hof ‘n plek wat hulle eerder wil vermy, ongeag of hulle skuldig, onskuldig of net ‘n toeskouer is.

“Om ‘n prokureur te wees was nog altyd my eerste keuse. Ek het altyd gesê ek wil ‘n regter word toe ek jonger was,” vertel Van der Walt.

Sy het na skool haar tasse gepak en na Potchefstroom getrek waar sy vir ‘n LLB-graad by die Noord-Wes Universiteit studeer het. Haar eerste jaar as klerk was by Ciska Tromp in Ventersdorp en daarna het sy die noorde vir die Kaap verruil waar sy vir ‘n jaar by Christie Fourie Ingelyf gewerk het.

“Ek het die geleentheid gekry om terug te kom Noorde toe en het by Franco Marx begin werk. Ek het vinnig geleer as prokureur is jy alles van berader tot raadgewer vir jou kliënte.” Sy voeg by die deel van haar werk wat sy die meeste geniet is siviele litigasie.

“Ek leer elke dag iets en dit raak vir my meer en meer interessant hoe langer ek daarmee werk. Dit gaan snaaks klink, maar ek geniet skeisake. Ek ken die stappe en hou daarvan om intiem met mense te werk.” Van der Walt sê sy kies nie altyd net die vrou se kant in ‘n skeisaak nie; sy kies die reg, maar sy help graag vroue waar sy kan.

“Ek dink ek kan skeisake goed hanteer aangesien ek nie getroud is of kinders het nie. Ek kan objektief bly en ek hou van baklei vir wat reg is. ‘n Mens moet vinnig leer om nie emosies aan ‘n saak te heg nie.”

Sy erken sy was in die begin van haar loopbaan baie geïntimideer deur mans en het vinnig besef daar is baie meer mans as vroue in haar bedryf. Sy sê sy is egter in die diep kant ingegooi en moes vinnig leer swem om haar stempel af te druk.

Van der Walt onthou hoe sy haar eie praktyk met ‘n geleende lessenaar, skootrekenaar en drukker begin het, asook die eerste oproep wat sy gekry het en die eerste brief wat in haar posbus gewag het. “Iemand het eendag vir my gesê as die gevoel van vlinders uit my maag verdwyn voordat ek in die hof moet wees, moet ek vir my iets anders kry om te doen.” Alhoewel Van der Walt min vrye tyd het, geniet sy dit om in die natuur te wees en te oefen.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

Related Articles

Back to top button