Awie benodig bydraes na hy dringende operasie ondergaan

Motorwerktuigkundige Awie Coetzee kan glad nie meer werk nie en moet tuis versorg word.

POLOKWANE – Soms is ‘n mens so siek dat jy vir ‘n paar dae in die bed moet bly. Ander kere is dit nie eers nodig om in die bed te wees nie.

Maar vir motorwerktuigkundige Awie Coetzee is dit ‘n heel ander prentjie – hy kan glad nie meer werk nie en moet tuis versorg word.

Awie se vrou, Anetta, het hulp gevra by Awie se broer, Gert, waarna hy ‘n Backabuddy rekening oopgemaak het.

Hier het Anetta onlangs ‘n pleidooi gerig aan vriende en familie om geld te skenk vir sy behandeling.

“Awie is al ‘n paar maande nie lekker nie, maar ek het nie gedink dit is so ernstig nie, minwetend dit is eintlik baie ernstig. Die laaste maand-en-‘n-half het ek hom gereeld by die dokter gehad waarop hy vir siektes soos brongitis en longontsteking behandel is.”

Anetta, ‘n hoof by ‘n kleuterskool, het in die vakansie agtergekom Awie se simptome vererger, en hom weer dokter toe geneem.

“Hierdie keer wou die dokters Awie onmiddellik laat opneem. Volgens hulle het hy ‘n gat in sy linkerlong wat veroorsaak dat hy dikwels kort van asem is. Die long het ook vog op. Die long moet tydens ‘n operasie gedreineer word waarna hulle dan die omvang van al die skade aan sy longe kan bepaal. Ongelukkig moes ons eers ‘n bedrag van R350 000 vir die hospitaal betaal voor hulle hoegenaamd vir Awie kan opneem.”

Die egpaar is nie lid van ‘n mediese fonds nie, en Anetta versorg Awie tans tuis. Hy moes intussen ophou werk en Anetta is dus nou die enigste broodwinner.

“Ons glo en vertrou hy sal weer kan werk sodra hy gesond is. Ek en Awie praat daagliks met Gert en die res van die familie, en ons probeer almal op hoogte van sake hou.” Sy sê sy slukderm is ook vernou met die gevolg dat hy nie kan eet of drink nie.

Sy liggaam is baie swak en hy het heeltyd versorging nodig. Awie is intussen opgeneem in die hospitaal waar die dokter die long kon dreineer. Anetta sê die prosedure het Saterdag plaasgevind en Awie het Sondag baie pyn gehad.

“Die dokter het die vloeistof vir drie toetse gestuur naamlik TB, kanker en om uit te vind watter bakterie dit is wat die probleem veroorsaak. Awie het baie pyn en die dreineringspyp is steeds in sy long. Hy moet gereeld beweeg sodat die vog meer kan dreineer. Volgens die X-strale is daar reeds ‘n beduidende verbetering op die longe.”

Hulle wag nou vir die laboratorium- en bloeduitslae voor daar verdere stappe gedoen kan word.

Intussen moet Awie ‘n kursus antibiotika voltooi om infeksie te voorkom. Hulle seun, Shaun (18) bly nog by sy ouers en Le-Chandré (21) het intussen teruggetrek na haar ouerhuis om van hulp te wees met Awie se versorging.

“Ek is baie dankbaar vir al hulle hulp en ondersteuning.”

Daar is reeds net meer as R11 000 in die Backabuddy rekening inbetaal.

Besoek Dire Emergency Intervention: Champion Page | BackaBuddy (www.backabuddy.co.za/champion/project/awie-coetzee) as jy ‘n bydrae kan maak.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group
Exit mobile version