Local News

Haar hart klop vir die bosveld en sy mense

Carin Hurter is 'n kliniekpraktisyn wat onlangs by Farmakon Apteek in Mokopane aangesluit het.

MOKOPANE – “Ek sal altyd ‘n Florence Nightingale wees. Ek wil ‘n diens lewer, en help om te genees,” sê die kliniekpraktisyn Carin Hurter wat onlangs by Farmakon Apteek aangesluit het.

Carin sê verpleging was nog altyd haar passie. Na skool het sy haar opleiding by die Pietersburg Provinsiale Hospitaal voltooi en teruggetrek na Mokopane waar die gemeenskap haar leer ken het in die verskeie dokterspreekkamers waar sy gewerk het. Sy is intussen getroud en dit was nie lank nie of haar kinders en haar man, Dries, het haar nodig gehad.

“Ek was ‘n tyd lank ‘n tuisteversorger waar ek my man en kinders ondersteun en grootgemaak het, maar ek het my beroep gemis, en het die Kansa Mokopane-tak op die been gebring.”

Sy sê daar het soveel geleenthede oor haar pad gekom, waarvoor sy oneindig dankbaar is. Sowat 11 jaar gelede het sy die geleentheid gekry om haar verpleegloopbaan voort te sit by ‘n laboratorium in Gauteng.

Lees ook: Elandi Dokter glimlag weer na motorbotsing

Haar hart het egter terug verlang na haar tuisdorp. Sy het ‘n oorplasing na Polokwane gekry en dit was nie lank nie toe loop sy die mede-eienaar van Farmakon Apteek, Bronwyn van Heerden by ‘n plaaslike restaurant in Mokopane raak.

“Sy het my ‘n geleentheid gebied om by die Farmakon Apteek aan te sluit en ek het dié geleentheid met albei hande aangegryp. Om ‘n kliniekpraktisyn in my tuisdorp te kan wees, is vir my ‘n groot geskenk. Dienslewering is vir my belangrik en ek werk in belang van lewenskwaliteit.”

Sy voeg by dat dit vir haar oor voorkoming, opsporing en behandeling gaan.

Op Bosveld se vraag oor hoogtepunte in haar lewe sê Carin dat sy nie eintlik iets in haar loopbaan kan uitsonder nie.

“Ek het soveel wonderwerke gesien en soveel getuienisse beleef dat dit moeilik is om iets as ‘n hoogtepunt uit te sonder.”

Sy verduidelik dat die kliniek algemene dienste lewer, insluitend ‘n volledige konsultasie met ‘n dokter, cholesterol- en diabetiese toetse, gesinsbeplanning, papsmere wat ‘n borsondersoek insluit, inentings en ook gesinsbeplanning-inplantverwydering. “Ek kan ook bloed trek vir die laboratorium en bloedtellings doen.”

“Om saam te vat, dit is omtrent al jou primêre gesondheidsorgdienste hier by die kliniek en wat die kliniek uniek maak, is dat jy jou konsultasie en medisyne in een gebou kry – alles wat jy nodig het hier by Farmakon Apteek.”

Sy nooi inwoners uit om met haar te kom praat as hulle bietjie sleg voel. “Kyk na jou gesondheid. Almal word een of ander tyd siek en daar is nie altyd die finansies om ‘n dokter te gaan sien nie, hier kan ons jou help teen bekostigbare pryse. Niks is te klein of te groot vir ons om te hanteer nie en almal het die reg op basiese gesondheidsorg.”

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

Related Articles

Back to top button