SAVF Martha Hofmeyr se kos ‘nou nes ‘n hotel’

SAVF Martha Hofmeyr en Vergeet-My-Nie kry maandeliks 'n kontantskenking vir die kos, asook kos van kettingwinkels.

POLOKWANE – Soms moet ‘n mens jou dienste uitkontrakteer om te verseker dat jou kliënte beter daartoe af is. Dit is dan ook wat die bestuur van SAVF Martha Hofmeyr en Vergeet-My-Nie gedoen het toe hulle kombuis deur die Feedem Group oorgeneem is.

Bestuurder Marietjie Smit sê die spyskaarte bestaan nou uit gesonde, gebalanseerde disse wat deur gespesialiseerde kokke voorberei word en deur dieetkundiges uitgewerk word.

“Feedem het op 1 Februarie oorgeneem. Die SAVF bespaar baie koste en ons het ook nie die personeeluitdagings soos in die verlede nie. Die SAVF se beleid bepaal dat inwoners van Vergeet-My-Nie ten minste een ete per dag in die saal moet kom eet. Op hierdie manier kan ons seker maak hulle kan nog vir hulleself sorg. Daar word elke dag ‘n bord kos as voorbeeld van wat die inwoners daardie dag kan verwag, geskep. Die inwoners van Martha Hofmeyr sê hulle voel asof hulle in ‘n hotel woon met die nuwe spyskaart. Ons kan nou vir die inwoners presies gee dit wat nodig is. Sommige inwoners moet deur buisvoeding kos kry en ander moet ‘n sagte dieet hê, en nou kan hulle dit kry. Daar is ook nou gesonde happies vir die diabete.”

SAVF Martha Hofmeyr en Vergeet-My-Nie kry maandeliks ‘n kontantskenking vir die kos, asook kos van kettingwinkels. Die grootste verskil is die manier hoe dit gaar gemaak word. Soms is daar ekstra vrugte wat dan ook aan die inwoners as slaai gegee word.

“Wanneer daar na ete nog kos oor is, kan inwoners nog ‘n happie kry, nie ‘n hele bord kos nie. Ek is elke dag in die eetsaal tydens die oorgangsfase en soos die probleme opduik, hanteer ons dit. Die tafels word ook spesiaal gedek, met plekmatjies, blomme en spesiale souse. Elke maand sal daar ‘n nuwe tema wees waarvolgens die tafels versier sal word.”

Smit sê hulle het baie planne vir die jaar wat voorlê, nie net vir die inwoners nie, maar ook vir die gemeenskap.

“Ons begin op 25 Februarie weer met ons Sondag buffetetes twee keer ‘n maand. Dan is daar ‘n galafunksie om na uit te sien vir Martha Hofmeyr se 50ste verjaarsdag in Augustus, ‘n braai-kompetisie vir Nasionale Braaidag en flieks op die groot skerms.”

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group
Exit mobile version