Hoe die Popiwet jou kind se privaatheid raak

Die Popiwet laat ouers en voogde toe om toestemming met betrekking tot gepubliseerde persoonlike inligting in enige stadium terug te trek.

POLOKWANE – Tegnologie, foto’s en video’s word ingespan om herinneringe vir ewig vas te lê. ‘n Konsert, sportbyeenkoms en vele ander mylpale word gedokumenteer en vir almal wat wil sien, of nie wil nie, gewys.

Skole het deesdae WhatsApp-groepies vir elke klas, waar die ouers deur die loop van die dag foto’s van hulle kinders ontvang. Dié word weer aangestuur of selfs op Facebook geplaas. Natuurlik wil ouers hulle kinders ook in koerantblaaie sien na ‘n konsert, sportgeleentheid of prysuitdeling.

Oor die gevare van sosiale media word daar gereeld berig, met wenke oor hoe om veral kinders veilig te hou. Die meeste skole het ‘n beleid met die terme en voorwaardes waar die ouers die kans gegun word om te sê hulle kind gefotografeer mag word.

Die Popiwet beklemtoon die privaatheid van beide die leerders en hulle ouers.

Polokwane Review het met Helene Viljoen, ‘n prokureur wat in hierdie veld spesialiseer, gesels oor kinders en hulle aanlynprivaatheid.

“Soos alle Suid-Afrikaners word ‘n kind se reg op privaatheid beskerm. Suid-Afrika se gemenereg bepaal dat die media beide die openbare belang en die redelike privaatheidsverwagtinge van die kinders in ag moet neem wanneer hulle verslagdoen.”

Volgens die Popiwet moet skole en ander voogde van minderjariges met joernaliste en fotograwe kommunikeer in verband met die neem van foto’s en video’s.

“Die onus rus op die skool om met ouers te kommunikeer oor toestemming wanneer dit by die identifisering van kinders op sosiale media en die media in die algemeen, kom. Die skool moet dit weer aan die media kommunikeer. Wanneer ‘n joernalis by ‘n skool aankom om foto’s te neem, moet hy of sy die personeel vra of daar enige leerders is wat nie afgeneem mag word nie. ‘n Joernalis kan ook, voordat die foto’s gepubliseer word, dit aan die skool stuur om uit te vind of hulle dit mag gebruik.”

Soms wil ouers die foto’s van hulle kinders verwyder hê na dit reeds gepubliseer is. Die Popiwet laat ouers en voogde toe om toestemming met betrekking tot gepubliseerde persoonlike inligting in enige stadium terug te trek. Die wet erken egter die realiteit dat vorige publikasies nie wonderbaarlik ongedaan gemaak kan word nie.

“Normaalweg verwyder publikasies nie inhoud as dit nie onregverdig lasterlik is nie en nie in staat is om reg te stel te word nie. Wanneer dit egter by kinders kom, is hul beste belange voorop. Sulke versoeke word saam met die kind se belange en die openbare belang oorweeg. As openbare belang nie vereis dat die foto aanlyn moet bly nie, en die kind se beste belang vereis verwydering, kan dit verwyder word.”

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group
Exit mobile version