Tommie – groentjies vermaak met groentjiekonsert

Die graad 8 leerders het die gehoor vermaak tydens hulle jaarlikse groentjiekonsert waar hulle op 'n reis regoor die wêreld was.

POLOKWANE – Ouers van die gr. 8-leerders by Hoër Tegniese Skool Tom Naudé het verlede Woensdagaand saam met hulle kinders regoor die wêreld gereis vir die jaarlikse groentjiekonsert.

Die aand het afgeskop met die karakter Jono, wat wonder wat gaan gebeur as hy net die beste kan wees – trofeë wen soos die Springbokke, vinnig hardloop soos Usain Bolt, of ‘n gehoor kan vermaak op die verhoog.

“Ek kan die wêreld gaan sien, of iets ontwerp en bou, vir mense iets beteken en hulle help.”

Regdeur die vertoning praat Jono se gewete, Charné, met hom.

“Jy staan nou op die punt van ‘n nuwe begin. Die mense voor jou het hierdie wêreld volgemaak met alles waaroor hulle gedroom het.”

Raymond Verster vermaak die gehoor.

‘Magician Mike’ was saam met Jono en het hom gereeld gemotiveer met waarhede soos, as jy vinnig wil reis, gaan alleen. As jy jou reis wil geniet, reis saam met iemand.

Dié drie is per vliegtuig na Trinidad en Tobago waar hulle Tom Naudé se sternetbalspeler, Kabura Abubakar (Abu), raakloop.

Abu vertel vir hulle van Tommieland en hoe dié skool haar ondersteun het om haar drome te bereik. Met elke land kry die span ‘n leidraad oor waarheen hulle volgende moet gaan.

Volgende reis hulle per boot na Spanje waar hulle die rugbyspeler, Michael van Heerden ontmoet. Ook Michael vertel vir hulle hoe sy Tommie-tjommies hom gehelp het om sy rugbydroom te verwesenlik.

Met die trein reis die groep na Nederland waar Katlego Moloto vir hulle vertel hoe hy, in Nederlands, vir die Redenaars Wêreldkampioenskappe oefen.

Na Nederland reis hulle per fiets na Brasilië en loop Tom Naudé se sokkerster, Lindo Kolobe raak. “Ek het daarvan gedroom om die volgende sokkerheld soos Christiano of Neymar te word. En kyk, hier is ek in Brasilië.”

Armand van Heerden is ‘n rugbyspeler, Micheal van Heerden in Spanje.

Na Brasilië is Griekeland op hulle roete. Met ‘n bus reis hulle na die land waar atletiek gebore is, en ontmoet vir Dave Mokgawa, Amo Nkhanyane en Oom Danie le Roux, Tommie se atletiekafrigter.

Die volgende leidraad neem die groep na San Francisco met ‘n veerboot waar drie Tommies besig is om ‘n brug te bou.

“Tom Naudé is ‘n brug vir toekomstige ingenieurs soos jy en ons verwelkom enige iemand wat bereid is om daardie brug oor te steek,” kry Jono raad.

Nadat hulle na Japan moes stap, kom hulle in kontak met karatekas soos Imke Lottering wat spog met ‘n Tommie-gordel wat sy ontvang het.

Jono, Mike en Charné eindig hulle reis by Tommieland, waar hulle vertel word van al die ander presteerders wat by Tom Naudé skool gaan.

Deur die reise oor die wêreld het die gr. 8’s gesorg vir vermaak in die vorm van musiek en dans.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group
At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Exit mobile version