Tref voorbrand die rooiseisoen

Mark Wreyford verduidelik dat sy span van Working on Fire sedert die begin van die rooiseisoen dag en nag brande in die omgewing blus.

MOKOPANE – Jaarliks brand groot dele van plase en kleinhoewe in die omgewing af as gevolg van nalatigheid of moedswillige brandstigting, en die skade is dikwels omvangryk.

Mark Wreyford en sy span van Working on Fire (WoF) is jaarliks verantwoordelik vir die voorbrande op plase.

Vanjaar se rooiseisoen het op 19 Julie afgeskop en Bosveld het voorheen berig wat dié regulasies behels.

Weens die droë veld en die winde wat hierdie tyd van die jaar waai, mag geen vure gemaak word nie.

Tog is daar inwoners wat nie gehoor gee aan die regulasies nie en tuinvullis brand en selfs onveilige braaivleisvure aansteek.

Die oorsprong van die brande wissel dikwels, maar vanjaar, meen hy, is brandstigting een van die hoofredes.

“Gevalle van brandstigting is vanjaar meer as in ander jare.”

‘n Groot uitdaging wat hulle in die gesig staar, is boere wat self hulle voorbrande hanteer en dan skade aan aangrensende grond veroorsaak.

“Die grondeienaar sien hier kom ‘n brand, maak voorbrand om sy eiendom te beskerm en gee nie om vir die ander grond wat hy afbrand nie. As ‘n persoon ‘n voorbrand maak volgens die veld- en bosbrandwet bly jy verantwoordelik vir daai vuur wat jy begin het en moet jy teenwoordig wees tot dit geblus is. As iemand in die vuur omkom kan jy aangekla word van moord asook aanspreeklik gehou word vir skade aan die bure se eiendom.”

Hy meen die gemiddelde grondeienaar het nie kennis van, en is ook nie opgelei om voorbrande te hanteer nie.

“Hulle besef heel dikwels ook nie die moontlike gevolge van hulle dade nie.”

Wreyford noem voorbrande is die laaste opsie wat oorweeg moet word en dat daar baie faktore in ag geneem moet word alvorens voorbrande gemaak word.

Die span het tot dusver meer brande geblus as verlede jaar, en die grootste van hierdie brande was een op die N11 in Roedtan se rigting.

“Die boere het weiding verloor in daardie vuur, wat hartseer is.”

Hy vermoed die brand was ook gestig.

“’n Groot probleem is ‘n natuurreservaat in die Mokopane-omgewing. Hierdie reservaat word jaarliks aangespreek oor brandbane maar hulle steur hulle net nie aan die aanmanings nie. Tot dusver was daar van die omliggende privaat grondeienaars wat skade gely het weens hierdie reservaat se verontagsaming van die wette.”

Hy het weereens klem gelê op die feit dat sigaretstompies en glasstukke in die veld nie die taak van die span vergemaklik nie, maar eerder aanhelp dat gras aan die brand steek.

Hy vra die gemeenskap se samewerking in die stryd teen brande.

“Sluit aan by die brandbestrydingsvereniging en werk saam met die span,” is sy raad.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group
Exit mobile version