Jade is enig in haar soort in Limpopo

Met meer as 30 hase in haar besit is Jade Greyvensteyn nie net 'n haaseienaar nie, maar ook die enigste geregistreerde haasteler in die provinsie.

POLOKWANE – Jade se liefde vir diere het haar drie jaar gelede gelei om met hase te begin teel.

“Ek het pas gematrikuleer en gesukkel om werk te kry. Ek is baie lief vir diere en wou graag ‘n veearts word, maar dinge het toe nie so gewerk nie.”

Jade verduidelik dat sy iemand ontmoet het wat hase gehad het en sy het begin om navorsing te doen oor die teel van dié langoor-diere. Sy het twee wyfies en een mannetjie gekoop en haarself geregistreer as haasteler. Haar besigheid se naam is JS Rabbitry.

“Mense dink dit is maklike geld, maar dit is nie. ‘n Mens moet sorg vir die regte gras in hulle hokke, die regte kos en ook medikasie. Soms gebeur dit dat die kleintjies doodgaan en dan ly mens ‘n verlies. Ek hou die kleintjies by hulle ma’s totdat hulle agt weke oud is.”

Jade vertel daar is tans 24 verskillende haasrasse in Suid-Afrika, en as gevolg van siektes mag geen haas ingevoer word nie. Die prys van ‘n haas hang af van hulle ras en kwaliteit. Elke haas het ‘n naam en Jade sorg dat die hase van vroeg af gewoond gemaak is aan honde en katte.

“Dit is vir my belangrik dat mense eerder die hase vir my terugbring as hulle besef hulle nie een wil hê nie en reeds een by my aangekoop het.”

Sy voeg by hase verkies koue weer bo warm weer. Hulle temperatuur word deur hulle ore gereguleer en Jade sit ‘n bottel met ys in hulle hokke om hulle te help afkoel.

“Wanneer jy aan ‘n haas wil vat en hy spring weg, is hy gesond. Die haas wat net stilsit is gewoonlik siek. ‘n Haas kan van agt tot 12 jaar leef.”

Lees ook: Hokaai voor jy vir die jongspan ‘n haas koop

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group
Exit mobile version