Local NewsNews

Hiérdie nuwe slenter kan jou geld kos

'n Nuwe tendens wat misdadigers deesdae gebruik om inwoners uit te buit, het onlangs sy kop in die stad uitgesteek.

POLOKWANE – Hulle maak gebruik van ‘n mens se vrees vir arrestasie wat dan daartoe lei dat jy eerder geld sal betaal om dié onaangename uitstappie te vermy.

Verskeie boodskappe is die afgelope tyd op sosiale media gedeel waarin mense kla van ‘n polisiebeampte wat hulle glo wil arresteer.

Volgens die boodskappe kontak die beampte die slagoffers, en sê dan hy het ‘n lasbrief om hulle in hegtenis te neem.

Die vangplek is dan dat hulle kwansuis die lasbrief kan laat verdwyn, deur ‘n sekere bedrag te betaal.

Polokwane Observer het met Andries Rheeder van Rheeder Prokureurs gesels oor wat jou regte is.

“In die afgelope paar maande het verskeie mense my gekontak vir regsadvies of om hulle by te staan met dié nuwe slenter,” sê Rheeder.

Hy verduidelik hoe misdadigers te werk gaan:

“Die persoon maak telefonies met die slagoffer kontak en identifiseer homself as ‘n lid van die polisie. Die persoon dui dan aan dat jy ondersoek word vir ‘n misdryf. Dié misdrywe waarvan hulle jou beskuldig is onder andere dat jy vervalste geld gebruik het om vir ‘n item te betaal, dat jou voertuig gebruik was by een of ander misdryf of ongeluk en – spesifiek op mans gerig – dat jy die dienste van ‘n prostituut gebruik het. Die lys van misdrywe waarvan hulle jou beskuldig is eindeloos.”

Ongeag wat die misdryf waarvan hulle jou beskuldig ook al behels, dui hulle aan dat hulle jou gaan moet arresteer.

“In sekere gevalle sal selfs meer as een persoon jou skakel en dreig met moontlike arrestasie. Jy kan jou bes probeer om te verduidelik dat jy onskuldig is, maar hulle sal aandring dat hulle al die bewyse teen you het en jou gaan arresteer. Soms sal hulle selfs so ver gaan as om jou te versoek om hulle iewers te ontmoet.”

Die punt waarop die kriminele met die telefoniese gesprekke afstuur is hoe die slagoffer die hele onaangenaamheid kan vermy, deur ‘n bedrag te betaal. Hulle sal verduidelik dat die betaling ‘n boete is wat jy kan betaal of ander kere versoek hulle blatant omkoopgeld.

“Wat die geval ook al mag wees, moet nie die geld betaal nie. As jy hulle die eerste keer betaal het, sal hulle jou weer en weer skakel vir nog geld. ‘n Lid van die polisie sal jou nooit versoek om ‘n boete per ‘E-wallet’, of enige ander wyse te betaal nie. Boetes kan sleg direk by die polisiestasie betaal word.”

As jy gekontak word en só ‘n dreigement ontvang, skakel jou prokureur om jou van hulp te wees.

Alternatiewelik, gaan na jou naaste polisiestasie toe en vra om met een van die beamptes aan diens te praat.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

Related Articles

Back to top button