Metalinguistiese bewustheid: Het jou kind dit onder die knie?

Plaaslike spraakterapeut Cecilia Marx verduidelik waarom jou kind hulle vaardighede in metalinguistiese bewustheid moet bemeester.

POLOKWANE – “Metalinguistiese bewustheid is die vermoë om jouself te distansieer van die inhoud van taal en te fokus op struktuur. As jy gefokus is, stel dit jou in staat om te reflekteer, redeneer en op die ou end, te manipuleer.”

Só sê plaaslike spraakterapeut Cecilia Marx wat beklemtoon dat metalinguistiese bewustheid eers tussen die ouderdom van vyf en sewe jaar ontwikkel.

Waarom is metalinguistiese bewustheid belangrik?

“Daar is twee vlakke: Sosiaal en akademies. Op sosiale vlak stel metalinguistiese bewustheid die kind in staat om die manier waarop taal in ‘n bepaalde konteks gebruik word, te verstaan. Dit sluit humor, ironie en sarkasme in. ‘n Kind is bewus van die spreker se stemtoon en kan deur iemand se gesigsuitdrukking aflei wanneer die spreker geïrriteerd is.”

Metalinguistiese bewustheid stel die kind in staat om die boodskap wat hy wil oordra te kontroleer en te manipuleer sodat dit toepaslik is in die konteks waarin hulle, hulself bevind. Op akademiese vlak help metalinguistiese bewustheid met geletterdheidvaardighede soos om te lees en te skryf. “Die skrywers van Disney-flieks speel met woorde op ‘n volwasse vlak. Kinders verstaan dit nie, maar ons as volwassenes kan lag vir die grap.”

Metalinguistiese bewustheid help met wiskundige vaardighede waar die kind analities moet dink en probleme moet analiseer. Hierdie bewustheid leer ook ‘n kind om te redeneer en gevolgtrekkings te maak. Kinders leer hoe om begrip te hê van figuurlike taal en hoe om dit te gebruik. “Hulle leer nie net om hulle idees akkuraat oor te dra nie, maar ook om begrip te hê van die gebruik van kultureel en sosiaal aanvaarbare taalgebruik.”

Maniere om bewustheid te skep:

• Selfpraat: Selfpraat help met die ontwikkeling van ‘n bewustheid van wat verwag word in ‘n bepaalde konteks, en gevolglik verseker dit dat die boodskap wat teruggegee word duidelik en deeglik is. Voorbeelde hiervan is wanneer ‘n kind verduidelik wat in ‘n storie gebeur of wanneer ‘n ouer kind eers die vrae of instruksies verbaal antwoord voor hulle dit skryf.
• Voorspelling: Dit word gebaseer op ‘n ingeligte raaiskoot en behels deeglike analisering en logiese redenering. Dit aktiveer agtergrondskennis en trek aandag na sleutel konsepte. Met voorspelling kan ‘n kind ‘n einde voorspel wat gegrond is op vroeëre inligting.
• Parafrasering: Dit is jou eie weergawe van ‘n ander persoon se boodskap. Dit sluit in sinonieme, antonieme, samevoegings en om jou eie woorde vir ‘n storie te gebruik.
• Opsomming: Dit is die uitlig van belangrike inligting, om irrelevante inligting te ignoreer, sentrale idees te kan integreer en jou geheue te verbeter. Vra vrae soos ‘wat’ en ‘waarom’ en hou ‘n dagboek.
• Speel met die taal: Kyk verby die betekenis en fokus op die werklike bedoeling van die boodskap. ‘n Kind moet ’n goeie begrip van die betekenis van woorde hê en waarom dit op ‘n bepaalde manier gebruik word. Dit sluit in om die betekenis van idiome, metafore en personifikasie te identifiseer asook van raaisels en grappies gebruik te maak.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group
Exit mobile version