Geliefde tannie Alida nóg ‘n jaar gespaar

Tannie Alida Prinsloo het onlangs haar 98ste verjaarsdag gevier.

MOKOPANE – “Almal van ons ervaar moeilike tye in die lewe, maar ons kan nie terugkyk nie. Ons moet hande vat, vorentoe gaan en die pad loop wat God vir ons gekies het, al is dit partymaal swaar,” sê tannie Alida Prinsloo wat onlangs haar 98ste verjaarsdag gevier het.

Sy noem aan Bosveld dat sy in 1924 in die koue hoëveld-distrik van Delmas met die van, Human, gebore is waar sy grootgeword het op ‘n plaas buite die dorp. “Toe ek so 10 jaar oud was het my pappie ingetrek dorp toe sodat ons nader aan die skool kan wees.” Sy sê dat sy en haar boetie altyd met die karweiwa van die plaas af gery het skool toe terwyl dit nog donker was. “En soos boeties maar is het hy gereeld vir my weggery en moes ek maar agterna kom.”

Daardie jare was daar nie matriek nie, net st. 8. Tannie Alida het haar skoolloopbaan voltooi by Hoërskool Delmas en daarna teruggegaan plaas toe om weer die plaaslewe te hervat. Twee jaar later het haar man, Martin, haar voete onder haar uitgeslaan en het die twee die knoop deurgehak. Tannie Alida vertel dat sy en haar man albei plaasmense was en na haar skoonpa oorlede is het hulle met die erfgeld ‘n plaas buite Roedtan gekoop. “Dis hoe ons in die Bosveld beland het.” Uit die huwelik is twee seuns en twee dogters gebore.

“Die kinders is almal later getroud en het hulle eie lewens gelei. Ek en my man was toe maar alleen op die plaas.”

En soos die lewe maar is, haal die ouderdom ‘n mens in. “Ons het die plaas en alles daarop verkoop en by Soetdoring Woonstelle in die dorp gaan bly.” Dis ook in daardie tyd wat Alida as stigterslid van die Dienssentrum vir Bejaardes haar hand oopgemaak het en gehelp het met die pannekoekbak en straatkollekte vir die sentrum. “Na my man oorlede is het ek by my dogter gaan bly en so vier jaar gelede het ek by die Piet Potgieter Monument Ouetehuis ingetrek. Ek geniet dit by die ouetehuis so tussen my mense en die personeel is baie goed vir ons, maar my hoogtepunt sal maar altyd die plaaslewe wees.”

Tannie Alida sê sy het nie ‘n spesiale resep om altyd so gelukkig te wees nie. “Ek beweeg maar met my kierie as my bene dit toelaat en elke dag voel my lyf anders.” Sy moedig inwoners aan om nooit op te hou bid nie. “Die Hoërhand lei elkeen van ons, ons het nie ons lewens in ons eie hande nie. Kyk na bo, dis waar die toekoms is.”

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group
Exit mobile version