Huweliksgeluk van 60 jaar vir die De Jager-egpaar

Boet en Hettie de Jager is op 7 Julie 1962 in die eg verbind en hulle liefde straal steeds.

POLOKWANE – In die De Jager huishouding word 7 Julie elke jaar met baie eetgoed, vriende en foto’s gevier.

Op hierdie dag in 1962 is Boet en Hettie de Jager deur ‘n ds. Labuschagne in die eg verbind. Vandag, 60 jaar later, is die egpaar steeds so lief vir mekaar soos op hulle troudag en onthou hulle die geleentheid soos gister.

Op Hettie en Boet de Jager se troue in 1972, voor die ingang van die Moth-saal.

“Ons het by die Hervormde Kerk in Thabo Mbekistraat getrou en ons onthaal was by die Moths-saal gehou. Daar was 150 van ons familie en vriende bymekaar en ons het heerlik gekuier,” vertel Hettie. Sy onthou hoe sy en Boet 23:00 daardie aand al gery het, maar dat die feesvieringe nog tot in die vroeë oggendure aangehou het. Ons het na die Vrystaat verhuis en later het Boet ‘n pos in Polokwane gekry. Ons het in ons huis ingetrek as eerste eienaars en ons woon nog steeds hier. Dit is al 50 jaar later.”

Die paartjie het twee kinders, Deon en Alloëta, asook twee kleindogters en ‘n agterkleinkind.

Oor die resep vir ‘n suksesvolle huwelik van 60 jaar, is beide se antwoord die woord ‘belofte’. “Ons het ‘n belofte gemaak, met mekaar en voor die Here. As jy ‘n belofte gemaak het, hou jy daarby. Ons baklei soms, maar dit is gesonde baklei. Ons bly nie lank kwaad vir mekaar nie, ons baklei en gaan aan. Om te skei was nog nooit ‘n opsie nie,” verduidelik Hettie.

Die egpaar is al deur heelwat uitdagings in die lewe, soos beroertes en hartaanvalle, maar steeds hou hulle aan om mekaar te ondersteun deur dik en dun. Boet en Hettie is lief daarvoor om net saam met mekaar te wees. In hulle jonger dae het hulle baie gaan dans en Boet het geswem. Hettie sou hom dan aanspoor van die pawiljoen af.

Albei se ouers was ook onderskeidelik 62 en 60 jaar getroud en net die dood kon hulle skei, soos in die geval van Boet en Hettie. Hettie se raad aan ander mense is om nie sommer dadelik op te gee nie.

“Vandag se jong mense vat na die eerste geveg hulle goed en skei.”

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group
Exit mobile version