Local NewsNews

Dominee Tjaart deel sy ‘reis en avontuur saam met God’

Dominee Tjaart Meyer is al so lank deel van Polokwane dat dit moeilik is om jou die stad sonder hom in te dink.

POLOKWANE – Sondag na Sondag staan hy op die preekstoel, en by elke basaar en kerkfunksie groet hy oud en jonk, vriend en vreemdeling, vriendelik. Na 36 jaar tree hy op 31 Julie amptelik af, maar bly aan op ‘n tweejaarkontrak. Hy onthou toe hy op 13 Junie 1986, “kinderloos en onervare”, met baie idees en planne die amp by N.G. Kerk Pietersburg-Oos aanvaar het.

“Ek en my vrou, Ilze, is hartlik ontvang en het dadelik deel van die gemeente gevoel. Nou, jare later voel dit meer soos familie.”

Tussen 1998 en 1992 groei die Meyergesin met drie kinders, Marieke (nou Ferreira), Stian en Liezl (nou du Preez). In 2013 tree Marieke in die huwelik met Corné, en slegs vier jaar later, gebeur met Tjaart en Ilze iets wat geen ouer toegewens word nie toe Stian in ‘n werksverwante voorval sterf.

In 2019 trou hulle jongste dogter, Liezl, met Gert en nou kan Tjaart en Ilze as oupa en ouma spog met drie kleinkinders; Jeandré, Ané en Zaylee.

“Dit is vir my en my gesin ‘n heerlike voorreg om vir meer as 60% van hierdie gemeente se bestaan deel van die gemeenskap te wees. Hier het ons wonderlike tye en swaar tye saam beleef. Ons het saam gelag, saam gebid, saam gehuil, vreugdes en hartseer gedeel, saam vergader en saam na God se plan en Sy roeping vir ons lewens en die lewe van die gemeente gesoek. N.G. Oos en haar mense was vir ons baie goed, en ons het baie lief vir almal hier geword.”

Hy vertel sy tyd as predikant was, met ‘n paar uitsonderings, ‘n wonderlike tyd saam met wonderlike gelowiges, en baie hoogtepunte.

“In die tyd beleef ons ook die veranderinge wat soos ‘n tsoenami oor die wêreld spoel, veranderinge wat ook die kerk raak met al die uitdagings wat daarmee gepaard gaan. Dit is ‘n uitdagende tyd vir die kerk en stel geweldige eise aan ons in terme van aanpassing en bediening. Dit is nie altyd maklik nie, maar dit is ‘n reis en ‘n avontuur saam met God wat deur alles heen Sy kerk in stand hou.”

Dominee Tjaart sê dit was vir hom ‘n voorreg om die gemeente te dien met die gawes en talente wat God aan hom geskenk het. “In dié tyd het ek ook die voorreg gehad om ‘n verskil in die gemeenskap van Polokwane te maak. Met ‘n tweejaarkontrak in plek sien ek uit na nog jare saam met die gemeente.”

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

Related Articles

Back to top button