Blokhuise wat destyds gered is nou ‘n steen des aanstoots

Die twee historiese blokhuise op 'n erf op die hoek van Marshall- en Voortrekkerstraat in die stad wat vier jaar gelede van sloping gered is, staan steeds en het nou 'n steen des aanstoots vir verbygangers en bure geword.

POLOKWANE – “Die blokhuise is in ‘n verwaarloosde toestand en het nou ‘n skuilplek vir leeglopers en misdadige elemente geword. Ons eiendomme word bespied en die strukture dien geen doel nie,” sê ‘n inwoner van die omgewing.

Die Zeederberghuis was aan die einde van die 18de eeu die woning van die Zeederberg familie wat die poskoetsdiens tussen Pretoria en die Laeveld oor die destydse Pietersburg bedryf het en die twee blokhuise wat gedurende die Anglo Boereoorlog gebruik is, was deel van die geboue op die erf.

Die huis is egter gesloop voordat kultuurhistorikus en voormalige stadsraadslid Johan Willemse ingegryp het en slegs die blokhuise het oorgebly. Hy het toe by die Suid-Afrikaanse Erfenishulpbronagentskap (Sahra) se plaaslike agentskap (Lihra) aansoek gedoen dat die blokhuise na die Pietersburg-Doornkraal Geloftefeesterrein verskuif mag word maar geen uitsluitsel is nog verkry nie.

Artikel 34(1) van die Wet op Nasionale Erfenishulpbronne, 25/1999 is duidelik daarop dat niemand ‘n struktuur of ‘n deel daarvan wat ouer as 60 jaar is mag verander of sloop sonder ‘n permit wat deur die beherende gesag uitgereik is nie.

Ingevolge artikel 51 van dieselfde wet is ‘n oortreding van hierdie bepaling strafbaar met ‘n boete of gevangenisstraf wat nie twee jaar oorskry nie, of albei.

‘n Studie wat vroeër gedoen is, het aangedui dat daar ongeveer 276 geboue en strukture in die stad bestaan wat dalk bewarenswaardig is, maar volgens Willemse moet iemand die inisiatief neem om die owerhede oor te haal om ten minste ‘n deel van die stad se kulturele erfenis te bewaar. “Ek is heeltemal bereid om deel te wees van so ‘n inisiatief en nooi belangstellendes uit om met my hande te vat en iets te doen,” nooi hy. Willemse kan by 072 197 3134 geskakel word.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group
Exit mobile version