Local NewsNews

Lizelle veg teen beenmurgkanker

Op 17 Januarie deel Lizelle de Bruin die nuus dat sy 'n paar dae vroeër gediagnoseer is met mielodisplastiese sindroom, oftewel beenmurgkanker, op haar sosialemediablad.

POLOKWANE – “Dit is gelukkig vroeg opgespoor met gewone roetine bloedtoetse,” skryf sy.

Die nuus was ‘n skok vir haar en haar man, Michiel.

Lizelle is baie bekend onder die plaaslike diereliefhebbers en is die eienaar van Von Zwei Polokwane Dog Kennel Spa.

“Dit was nog nie leukemie nie en ek moes dadelik met chemoterapie begin en ‘n beenmurgoorplanting kry. Eers moes ek die regte skenker kry. Gelukkig het ek drie susters en kon die toetse om ‘n geskikte skenker te kry, begin. My tweede oudste suster, Lita Swarts, was ‘n 100% geskikte skenker.”

Hierna het daar vier maande verloop waarin Lizelle chemoterapie ontvang het. Sy sê na baie trane, moeg en siek wees, terwyl sy en haar familie heeltyd op hulle knieë was, kry sy die nuus, die kanker is in remissie.

Sy en Lita moes oor en oor bloedtoetse laat doen en daarna is Lizelle se beenmurgaspirasie weer getoets om seker te maak die kanker is nog in remissie. “Eers hierna het al die beplanning begin. Die dokters moes eers vir my ‘n J-Line (port) inbou twee weke voor die hele proses. Daarna moes ek en Lita gaan vir EKG-hart monitor sonars, X-straalplate en deeglike ondersoeke.”

Daar is ook gereeld met die familie vergaderings gehou om seker te maak almal verstaan hoe die proses werk.

Lita woon in Bloemfontein en moes gereeld na Pretoria reis tydens die proses. “’n Paar dae voor ek my J-Line in die teater moes kry, het die hospitaal my laat weet die hele proses is vir ‘n maand op ys gesit as gevolg van Covid-19. Dit het soos ‘n ewigheid gevoel.”

Hierdie maand is nou verby, en Lizelle is verlede Maandag opgeneem. Sy het chemoterapie ontvang en Lita se stamselle is geoes. Lizelle vertel Lita moes vier dae voor die tyd in Pretoria wees om met behandeling te begin.

“Sy het inspuitings gekry om haar stamselle sterker te maak. Sy is op die vierde dag opgeneem en haar stamselle is geoes. Die masjien wat hulle gebruik skei die stamselle van die rooibloedselle. Die dokters vries die oortollige selle vir as ek dit later sou nodig kry.”

Lizelle het kalmeermiddels en ander immuniteitinhibeerders ontvang en Dinsdagmiddag het sy die sakkie stamselle ontvang.

“Dit was baie emosioneel en gelukkig kon Michiel by my wees. Die stamselle moes hulle plek in my liggaam vind, en daarmee saam kry ek koors en is my stamselle se getalle op en af.”

Lizelle moet voorlopig vir die volgende drie weke in die hoësorgeenheid bly.

Teen druktyd was Lizelle moeg, maar positief. “Dit is nou dag ses en die dokters is tevrede. Ek het geen van die nagevolge wat ek kon kry nie, maar slaap baie.”

Sy en Michiel bedank al hulle vriende en die gemeenskap vir hul ondersteuning en gebede.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

Related Articles

Back to top button