Local NewsNews

Geliefde Lindie is in nood en jy kan help

Lindie Meyer het onlangs op die ouderdom van 32 jaar haar 20ste operasie ontvang.

POLOKWANE – Sy het ‘n aangebore komplekse sianotiese hartafwyking wat veroorsaak dat haar hart nie genoegsame suurstof aan die res van haar liggaam kan verskaf nie. Sy is ook gediagnoseer met neonatale Perthe se siekte, ‘n heupversteuring wat veroorsaak word deur ‘n onderbreking van bloedvloei na die bal van die heupgewrig of femorale kop toe. Die verlies aan bloedvloei lei tot beendood.

“My eerste opehartoperasie was op 12 jaar oud. Daarna het ek op 14 en 15 heupoperasies gekry en op 16 het ek weer ‘n opehartoperasie ondergaan.”

Lindie is ‘n geliefde mens in die gemeenskap wat nie twee keer dink om haar eie klere vir iemand in nood te gee nie.

Sy is die stigter van die nie-winsgewende organisasie, Leading Miracles Foundation. Hierdie organisasie staan sedert 2018 diegene by wat nie kan bekostig om na hulleself om te sien nie.

Sy reël partytjies vir die kinders in die Tough Living with Cancer saal by die Pietersburg Hospitaal en verskaf Bybels en skryfbehoeftes aan die kinders. Dit is maar ‘n druppel in die emmer in vergelyking met wat sy alles doen, en nooit sal sy vir haarself hulp vra nie.

Ongelukkig het dit al hoe moeiliker vir haar geraak om as vrywilliger te werk, en na verskeie mediese toetse en doktersbesoeke is daar bevind dat sy ‘n heupvervanging moet kry.

“Ek is op 5 Julie in Cintocare Hospitaal in Menlyn geopereer om my linkerheup te vervang, en ek is reeds baie lank terug medies ongeskik verklaar. Die operasie het vlot verloop, maar ek is nog in erge pyn. Die dokter is wel tevrede met hoe die operasie afgeloop het.”

Die mediese fonds plan waaraan Lindie en Stefan behoort dek nie al die onkoste nie en daar is baie bybetalings vir die nodige prosedures. Na sy die saak mooi oordink het, het sy besluit om vir hulp te vra.

“Ek glo en vertrou na die operasie sal ek ook die geleentheid kry om voluit te lewe vir die eerste keer in 32 jaar. Mobiliteit is waarna ek streef, maar ongelukkig vir my is my heupe wat vervang moes word nie die enigste operasie wat ek moes deurgaan in my lewe nie.

“My getal trek nou op 20, en met ‘n mediese fonds wat vinnig uitgeput word, kom ons en vra asseblief vir hulp hierdie keer. As julle dit in julle hart goed vind om ons te help, sal ons dit hartlik waardeer.”

Lindie sterk tans by haar huis aan, waar Stefan en hulle tienerdogter haar versorg. Enigeen wat wil help kan vir Lindie skakel by 061 348 3601.

Daar is ook ‘n Backabuddy rekening vir haar gestig wat skenkers kan besoek.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

Related Articles

Back to top button