NewsSchools

Afrigter Christelle aan stuur van Piet Hugo se netbal

Dié gr. 3-juffrou van Laerskool Piet Hugo het die afgelope vakansie gedurende die All Ages 2022 toernooi in Boksburg haar Suid-Afrikaanse kleure as netbalskeidsregter gekry.

POLOKWANE – Selfs gedurende skoolvakansies hou Christelle Barnard haar besig met dinge wat haarself en haar skool kan bevorder.

Dié gr. 3-juffrou van Laerskool Piet Hugo het die afgelope vakansie gedurende die All Ages 2022 toernooi in Boksburg haar Suid-Afrikaanse kleure as netbalskeidsregter gekry. Sy is die afgelope twee jaar al in beheer van Piet Hugo se netbal.

“Ons het baie potensiaal en het meisies wat goed kan speel. Met die regte ontwikkeling en afrigting gaan hierdie meisies nog blom. Ons spog met twee spelers wat deurgedring het na die distrikproewe en een na die Limpopoproewe.”

As netbalorganiseerder is sy verantwoordelik om netbalwedstryde en -dae vir die skool te reël, die toerusting reg te hou en kommunikasie tussen al die rolspelers te handhaaf.

“Ek moet ook die meisies en hulle afrigters motiveer. Ons het twee spanne per ouderdomsgroep en het hierdie jaar besluit om ‘n o/6-span op die been te bring. Ons leer hierdie meisies waar om te staan en ander vaardighede wat hulle nodig het om eendag goed netbal te kan speel.”

Barnard rig die huidige o/10-span af en beoog om hulle volgende jaar as o/11-groep ook af te rig. Al die spanne oefen drie dae in die week.

“’n Goeie netbalspeler moet op haar voete kan dink en veerkragtig wees. As sy lank is, is dit ‘n voordeel, en sy moet ook goeie hand-oog-koördinasie hê.”

Haar raad aan ander afrigters en onderwysers is om geduldig en kalm te wees. “Doen jou beplanning en wees altyd voorbereid. Onthou, elke storie het twee kante en moet nie vinnig opgee nie.”

As daar een ding is wat sy vandag weet wat sy nie aan die begin van haar loopbaan geweet het nie, is dit hoe om gemaklik met ouers te kommunikeer. Sy sê dit word elke jaar net makliker.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button