My kind sukkel om te leer, hoe nou?

MS Wellness fasiliteerder Stephanie Visser sê 'n profiel van jou kind se brein sal voordelig wees om leermetodes te verstaan.

POLOKWANE – Boetie woel en sussie sit stil, maar as die eksamenpunte uitkom blyk die teenoorgestelde waar.

Hoe kan dit wees? MS Wellness fasiliteerder Stephanie Visser sê ‘n profiel van jou kind se brein sal jou help om hierdie te verstaan. Visser deel dat ‘n breinprofiel help dat jou kind die regte leermetodes aanleer, asook hoe om werk op te som sodat hulle dit verstaan.

“Leermetodes en hoe om opsommings te maak, hang af van die kind se breinprofiel. Sodra ons weet watter kant van die brein die kind gebruik om te leer, kan ons hulle help om die ideale metodes te ontwikkel.”

Verskillende leermetodes sluit in memorisering, visualisering en ouditiewe leer. “Sommige kinders kan sit en deur hulle werk lees en dit memoriseer terwyl ander net kan luister hoe iemand dit verduidelik. Die wat die werk wil visualiseer kan gebruik maak van kleur en prente. Die kind moet egter weet waaroor die werk gaan en ‘n agtergrond daarvan hê.”

Visser sê ‘n mens kan nie te vroeg begin om opsommings te maak nie. “Na elke dag se klasse kan die kind reeds die dag se werk opsom. Teen die tyd wat dit eksamen is, ken die kind meeste van die werk reeds. ‘n Breinprofiel help egter aangesien dit gaan bepaal watter soort opsommings die beste gaan werk.”

Opsommings kan gekenmerk word deur kleur, kern woorde, om die belangrike feite uit te haal, en die werk uiteen te sit. “Wanneer die kind die opsommings maak en gebruik, maak dit die lewe vir die ouer makliker. Ouers ervaar, nes hulle kinders, baie stres, maar wanneer die kind makliker leer, verminder die stres.”

Breinprofiele kan vir hoër- en laerskoolleerders voordelig wees. Leer meer oor hierdie kursus in die Polokwane Observer.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group
At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version