News

Nog ‘n historiese baken afgebreek om plek te maak vir ontwikkeling

Die bekende Munnikhuis op die hoek van Dorp- en Jorissenstrate is vir ongeveer 26 jaar deur Barenda Eloff as Eloff Gallery bedryf.

POLOKWANE – Bewaringsbewustes van die stad is warm om die kraag nadat nog een van die stad se historiese bakens onlangs afgebreek is om plek te maak vir ontwikkeling.

Die bekende Munnikhuis op die hoek van Dorp- en Jorissenstrate is vir ongeveer 26 jaar deur Barenda Eloff as Eloff Gallery bedryf en het bekendheid verwerf as ‘n plek waar inwoners van die stad gesellig kon kuier en hulle in die kunswerke op die perseel kon verlustig.

Die besigheid is in Januarie 2016 aan Adri Botha verkoop en die besigheid is voortgesit. Die huis was oorspronklik die woonplek van Senator George Munnik, ‘n prominente inwoner en oudlanddros van Pietersburg wat in 1933 oorlede is. Munnik het hom onder andere beywer vir ‘n spoorverbinding vanaf Komatipoort om by Soekmekaar by die Pietersburg-Louis Trichardtspoorlyn aan te sluit en die Munnikstasie buite die dorp is later na Munnik vernoem.

Prof Louis Changuion vertel in sy boek, Pietersburg 1886-1986 dat President Paul Kruger tydens besoeke aan die dorp in 1886 en 1898, gereeld by die Munniks tuisgegaan het. Johan Willemse, ‘n bekende inwoner van die stad wat hom vir die bewaring van historiese geboue en terreine beywer, meen dat die munisipaliteit in gebreke bly om die stad se kunswerke en kultuurhistoriese bewaarwaardighede en toerisme-aantreklikhede te bewaar en te bemark.

”Volgens die SA Erfenishulpbronnewet van 1999, val hierdie struktuur, soos die bekende Zeederbergwoning wat ook wederregtig gesloop is, binne die trefkrag van hierdie wet en kon ek daarin slaag om die twee sinkblokhuise aldaar gespaar te kry. Die huis met sy onvervangbare teëls is egter binne ‘n halfuur afgebreek,” vertel Willemse.

”Ons moet dringend hofbevele kry om hierdie proses te stop. Dit het die nasionale bewaringsowerheid (SAHRA) so ‘n dekade gelede gedoen toe ontwikkelaars die afgebreekte Duitse kerkie in Kaapstad as ‘n gegewe aangebied het en ‘n winkelsentrum beplan het. Die hof het toe gelas dat die kerk op die oorspronklike perseel met die oorspronklike planne en versierings herbou word op die ontwikkelaars se koste,” vertel Willemse.

Die sloping gaan steeds voort en Willemse het aangedui dat hy besig om die saak verder te voer en ook vas te stel of enige goedkeurings verleen is. Die verantwoordelike amptenaar van die Limpopo Provinsiale Erfenishulpbronowerheid (LIHRA), Donald Lithole, kon Vrydag nie bevestig of die nodige permit vir die sloping van die gebou uitgereik is nie en het verder aangedui dat dit ‘n hele paar dae sal neem om ‘n uitslag te gee omdat “daar baie lêers by ons kantoor is”.

HISTORIESE GEBOUE WORD NA OMVATTENDE STUDIE IN DRIE KATEGORIEË VERDEEL

Die doel van die studie was om geboue en strukture (meestal geboue) in die sentrum van Pietersburg wat van historiese, argitektoniese en kontekstuele betekenis, te identifiseer en te tabuleer. ‘n Totaal van 2 176 eiendomme is ondersoek en daarvan was 174 van belang en hulle kan in drie kategorieë verdeel word, elkeen met sy eie karakteristieke eienskappe.

Kategorie 1 eiendomme is van die hoogste orde en kan moontlik as Nasionale Gedenkwaardighede geproklameer word.

Kategorie 2 eiendomme is nie van soveel belang as kategorie 1 eiendomme nie, maar speel ‘n betekenisvolle rol in die instandhouding van die historiese karakter van hul omgewings. Hierdie eiendomme en hul omliggende omgewings moet in ooreenstemming met ‘n streng ontwikkelings- en bewaringsbestuursplan instandgehou word.

Kategorie 3 eiendomme mag wel net so oud soos kategorie 1 en 2 eiendomme wees, maar is in so ‘n mate verander dat hulle meestal van die karakteristieke en stilistiese eienskappe van hul era verloor het. Hulle mag herontwikkel word op voorwaarde dat die geboue in geheel gedokumenteer word voor enige sloping, verandering of konstruksie. Totale dokumentasie impliseer volledige afmetings (binne ‘n aanvaarbare skaal) van die grondplan, hoogtes en seksies. Hierdie prosedures is basisvlak bewaringsmaatreëls vir enige stedelike onrwikkelingsprojek.

Dit sal die eerste bewaringsmaatreël van Pietersburg Stadsraad wees en sal deur die stadsraad gemonitor moet word. Hierdie maatreëls moet afsonderlik tot die Wet op Nasionale Gedenkwaardighede wat op geproklameerde nasionale monumente en omgewings van toepassing is, geïnterpreteer word.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

Related Articles

Back to top button