Heinrich se lewe hang steeds aan ‘n draadjie

Chron se siekte is 'n chroniese inflammatoriese siekte van die spysverteringskanaal en verskeie geldinsamelingsprojekte is die afgelope tyd gehou om die nodige geld in te samel vir Heinrich se noodoperasie.

MOKOPANE – “Boetie is net ‘n bondeltjie bene,” sê die emosionele Lisa Horn wanneer sy aan Bosveld verduidelik dat haar 17-jarige seun, wat aan Crohn se siekte lei, se lewe aan ‘n draadjie hang.

Chron se siekte is ‘n chroniese inflammatoriese siekte van die spysverteringskanaal. Verskeie geldinsamelingsprojekte is die afgelope tyd gehou om die nodige geld in te samel vir Heinrich se noodoperasie.

Heinrich is Woensdagoggend na die Charlotte Maxeke Hospitaal in Johannesburg gehaas nadat sy toestand verswak het. Lisa verduidelik dat dié hospitaal moontlik die nodige fasiliteite het om Heirich te kan help. Sy sê dat Heinrich tussen twee en drie maande in die hospitaal sal moet wees.

Lees ook: Christi vertel van haar genesing na skok-siekte

“Hy is op die stadium te swak vir enige operasie en dit maak dat die dokters nie kan vasstel wat die skade regtig is nie. Daar word ook vermoed dat sy ingewande aan mekaar begin vasgroei, maar dit sal ons eers weet as die mediese span kan opereer.”

Sy voeg by dat die nodige skanderings gedoen sal word om te probeer vasstel wat die volgende stap is.

“Alles is ‘n risiko en ons weet nie wat om volgende te verwag nie,” sê sy en noem dat die lewenslustige tiener nou slegs 34kg weeg.

Bosveld het berig dat Heinrich van kleintyd af met sy gesondheid gesukkel het. Lisa vertel dat hy na vele doktersbesoeke uiteindelik met Crohn se siekte gediagnoseer is.

Sy sê dat die gastroloog by Mediclinic Kloof in Pretoria, dr. Charl van Niekerk, die diagnose gemaak het nadat hy ‘n gastroskopie en koloskopie gedoen het.

“Die dokter het opgemerk dat daar ‘n ernstige vernouing in sy dunderm is en sy vermoede van Crohn se siekte is bevestig met X-strale.”

Die mees algemene simptome van die siekte is buikpyn, diarree wat bloederig kan wees as die ontsteking ernstig is, koors en gewigsverlies. Ander simptome wat mag voorkom is bloedarmoede, ‘n veluitslag, artritis, oogontsteking en moegheid.

Lisa bevestig dat Heinrich inflammasie het waar die maag met die derm verbind. Daar is ook bakterieë in sy maag wat maagswere veroorsaak.

Sy sê die siekte, volgens die dokter, is lewensbedreigend en daarom is dit noodsaaklik dat hy die operasie moet ondergaan, maar die gesin benodig finansiële ondersteuning. Die kwotasie vir die operasie is R119 092.

Enigeen wat ‘n bydrae wil maak kan vir Liza skakel by 072 123 3326.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group
Exit mobile version