‘Genoeg is genoeg’ sê vereniging na rugbyskeidsregter deurloop

Die gedrag van toeskouers by rugbywedstryde en spesifiek die onvanpaste optrede teenoor skeidsregters het na 'n onlangse voorval by 'n klubrugbywedstryd ook plaaslik onder die soeklig gekom.

POLOKWANE – Volgens ‘n verklaring, wat in Polokwane Observer se besit is, is ‘n skeidsregter op 25 Junie in die kuit raakgeskiet – vermoedelik met ‘n gaspistool.

Die betrokke skeidsregter het ‘n vriendskaplike wedstryd tussen Noordelikes Rugbyklub en Louis Trichardt Rugbyklub se derdespanne hanteer toe die voorval, luidens die verklaring, in die 20ste minuut gebeur het.

Hy vertel: “Ek het ‘n pyn soortgelyk aan ‘n perdebysteek, in my kuit gevoel en kon daarna nie hardloop nie. Ek het my fluitjie geblaas en die mediese personeel ontbied.”

Die skeidsregter noem dat hy in daardie stadium ‘n jong man gewaar het wat tussen motors ingehardloop het.

“Ek het van die veld af gestap en ‘n ander skeidsregter moes die wedstryd verder blaas. Ek het vir ‘n bestuurslid beduie dat ek die man aan die anderkant van die veld gesien het. Dié lid het ‘n ander bestuurslid wat aan daardie kant van die veld ondersteun het, gekontak, maar die lid kon niemand met ‘n gaspistool sien nie.”

Volgens die verklaring het die toeskouers aan dieselfde kant van die veld beaam dat dit wel ‘n jong man was wat die skeidsregter geskiet het. “Hulle het bevestig dat die man in sy bakkie geklim en weggery het,” het die skeidsregter gesê.

Die man, wat al vir meer as 30 jaar in verskeie hoedanighede by plaaslike rugby betrokke is, voel die voorval is ‘n geïsoleerde geval.

“As skeidsregter moet jy ‘n dik vel ontwikkel vir dit wat ondersteuners jou toesnou. Hierdie voorval is wel die eerste van sy soort in al die jare wat ek as skeidsregter optree. Ek hoop hierdie voorvalle sal stopgesit word omdat ons as skeidsregters uit ons liefde vir die sportsoort onsself beskikbaar stel om wedstryde te blaas.”

Klubvoorsitter Freek Romijn sê dié geval is betreurenswaardig, maar is beslis die uitsondering. “Ons duld geen geweld by die klub nie. Ons probeer altyd die wedstrydomgewing so veilig as moontlik maak vir toeskouers, spelers, skeidsregters en afrigters.”

Volgens ‘n onberispelike bron is daar onlangs ‘n verslag aan die Blou Bulle se uniekantoor gestuur rakende die verbale en fisieke mishandeling van skeidsregters in die provinsie.

Dié verklaring, waarvan Polokwane Observer ook ‘n afskrif het, is deur Blou Bulle Rugbyunie hoofuitvoerendebeampte Eugene Hare bevestig. Hy het wel gesê dat die ondersoek wat van stapel gestuur is slegs oor “enkele verbale gevalle teen skeidsregters in die provinsie” handel.

Skeidsregtersverenigingvoorsitter Johan Venter meen genoeg is genoeg. “Talle skeidsregters het al aangedui dat hulle nie meer by sekere klubs wedstryde wil blaas nie. Hierdie mishandeling, en soms aanranding, is nie toelaatbaar nie en verslae is aan die uniekantoor gestuur. Ons wag om die betrokke klub se verslag te sien aangesien toeskouergedrag ‘n klub se verantwoordelikheid is. Ons keer hierdie voorval ten sterkste af,” het hy gesê.

Venter noem dat hulle reeds verlede jaar ‘n beleid in plek gestel het om die standaard van hulle skeidsregters te verbeter. “Hulle moet bepaalde eksamenpunte behaal en fiksheidsvlakke bereik om geakkrediteer te word. Hierdie is ons manier om hulle te verbeter om vir die klubs skeidsregters te bied wat op ‘n aanvaarbare standaard is sodat soortgelyke voorvalle nie gebeur nie.”

Limpopo Rugby Uniebestuurder Attie Buitendag het die voorval by Noordelikes bevestig en ook dat dit ondersoek word. “Ons wag vir terugvoer van die klub, maar die unie is teleurgesteld dat so iets gebeur het. Daar is egter in die stadium geen bewyse dat die skoot wel op die skeidsregter gemik was nie. Ons waarsku toeskouers om hulle nie skuldig te maak aan sulke gedrag nie.”

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group
Exit mobile version