Local NewsNews

Koraalmoord: ‘Ons het geweet dit gaan ‘n lang pad wees’

Die man wat aangekla is van Jakkie Grobler (80) se gru-moord is veronderstel om vandag met sy sielkundige evaluering te begin.

POLOKWANE – Dit is bykans 19 maande gelede wat Jakkie Grobler (80) in haar huis in Die Koraal Aftreeoord vermoor is.

Haar moord was ‘n skok vir die gemeenskap, en na al die maande is daar egter min vordering gemaak in haar moordsaak.

Eerste arrestasie

‘n Man, wat vermoedelik antwoorde oor haar moord kon hê, is in November 2020 in hegtenis geneem. Hy is wel ‘n paar dae later vrygelaat nadat die polisie hom nie met die saak kon verbind nie.

Vermeende moordenaar

Op 17 Augustus is die beskuldigde, Legonya Thamsanqa, gearresteer na hy in Krugersdorp voor die hof verskyn het op aanklagte van huisinbraak. Hy het in Augustus 2021 in Polokwane in die hof verskyn en sy borgtog aansoek was vir 3 September 2021 geskeduleer.

Sy saak is egter weer uitgestel en hy sou vanjaar, op 1 Junie, weer in die hof verskyn nadat hy vir sielkundige evaluering gestuur was. Volgens die Limpopowoordvoerder vir die Nasionale Vervolgingsgesag, Mashudu Malabi-Dzhangi, kon die man egter nie vir evaluasie gestuur word nie, aangesien daar nie vir hom ‘n hospitaalbed beskikbaar was nie.

Sy verduidelik dat hy wel veronderstel is om vandag (8 Julie) in die Thabamoopo Psigiatriese Hospitaal opgeneem te word.

Die lang pad duur voort

Jakkie se dogter, Rita Bothma sê die feit dat die beskuldigde nog nie gestraf is nie, het nie enige noemenswaardige effek op haar familie nie.

“Ons weet hy is agter tralies en dat die reg sy verloop sal neem. Ons het vanaf sy arrestasie geweet dat dit ‘n lang pad gaan wees. Ons gaan nie die hofsaak bywoon nie, want wat hy aan haar en ons gedoen het is onbeskryflik.”

Sy noem dat hulle familie reeds vrede gevind het. “Ons het vrede en vertroosting by ons Vader in die hemel gevind. Daar is geen gedagte dat ons hom wil sien of self vergelding vir vir sy dade wil eis nie. Ons het geen wraakgedagtes nie. Ons is getroos in die wete dat ongeag die hofuitspraak, hy eendag geoordeel sal word deur die Vader. Terselfdertyd moet die reg sy verloop neem en as hy skuldig bevind word, moet hy uit die samelewing onttrek word, sodat hy nooit weer ander vroue kan seermaak of vermoor nie.”

Jakkie se vriend, Frans du Rand stem saam. “Ek wil net ‘amen’ sê op Rika se repliek en stem ten volle saam.”

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

Related Articles

Back to top button