Local NewsNews

Haenertsburg: In die hart van die Wolkberge en talle inwoners

Op 4 Julie het inwoners van Haenertsburg gehoor hulle is Limpopo se Dorp van die Jaar finalis, en lesers kan van 18:00, 7 Julie tot 12:00, 22 Julie stem om te sorg dat Haenertsburg as die beste dorp gekroon word.

POLOKWANE – Knus in die hartjie van die Wolkberge, met ‘n welige woud, golwende grasvelde en selfs die bekende Magoebaskloof, lê die klein kunstige dorpie, Haenertsburg.

Dié dorp is bekend vir sy verskeie feeste en markdae waar items wat plaaslik vervaardig word uitgestal en verkoop word en plaaslike kunstenaars wys wat in hulle steek. Avonturiers, stappers, waaghalse en voëlkykers is gereeld in Haenertsburg te sien waar hulle die natuurlewe en rustigheid geniet.

Selfs die begraafplaas is ‘n gewilde toeriste aantreklikheid. Haenertsburg se inwoners is rustige mense en vreemdelinge word gou vriende hiér. Daar is vele aktiwiteite om aan deel te neem soos die Magoebaskloof Canopy Tours, bessies pluk en staproetes vir oud en jonk.

Lees ook: Exotically delicious ice-cream in the heart of Haenertsburg

Die unieke restaurante en kuierplekke, soos The Pot and Plough, Iron Crown Pub and Bistro en Zwakala Breweries, is gemaklike kuierplekke waar mense gereeld kan vashaak.

Al hierdie interessante plekke en geleenthede het Haenertsburg in die kollig gesit toe KykNet se Kwêla Dorp van die Jaar span een dorp in Limpopo moes kies om deel te wees van die kompetisie.

Op 4 Julie het inwoners van Haenertsburg gehoor hulle is Limpopo se Dorp van die Jaar finalis, en lesers kan van 18:00, 7 Julie tot 12:00, 22 Julie stem om te sorg dat Haenertsburg as die beste dorp gekroon word.

Die dorp van die jaar wen R1m se bemarkingswaarde van KykNet en ‘n 45-sekonde advertensie deur Homebrew Films, wat ook Kwêla se vervaardiger is, en wat gedurende KykNet se advertensietyd uitgesaai sal word.

‘n Groot makietie, geborg deur Kia, met musiek, kos en pret sal in die dorp gehou word en dit sal ook verfilm word vir Kwêla.

Die Polokwane Observer het vir lesers gevra wat Haenertsburg so lekker maak en waarom die dorp moet wen:

Natasha van Reede van Oudtshoorn: Die mooiste begraafplaas ooit is daar. Dit was vreemd toe ons op ‘n vriendinne wegbreeknaweek eers by die begraafplaas moes stop. Toe ek daar aankom het ek besef dis ook ‘n uitstappie op sy eie. Haenertsburg se bos is magies, dis meer as net ‘n bos. Die klein huisie in die middel van die bos laat jou voel asof jy uit jou wêreld uit ontsnap het.
Lizelle Coetzer: Dis ‘n wegbreek van ons besige lewe in Polokwane. Dis vars lug, mooi berge en groen wêreld. Dit is ‘n plek waar ‘n mens God se wonderlike skepping kan waardeer.
Hercules Jansen van Vuuren: Haenertsburg is maar net 60km se ry van Polokwane af, maar dit voel en lyk asof jy in ‘n heeltemal ander provinsie is. Die natuurskoon, vriendelike mense, lekker feeste en uniekheid van die dorpie maak dat Haenertsburg ‘n gunsteling wegbreekplek is vir my familie en vriende.
Monja Friedenthal: Uit ‘n kunstenaar se oogpunt is dit ‘n plek waar nuwe inspirasie om elke hoek en draai wag om ontdek te word. Die mense is ook net so besonders vreemd soos ek self.
Annet Janse van Rensburg: Haenertsburg is ‘n heerlike wegbreekplek. Daardie boekwinkeltjie is my gunsteling plek om te besoek, om nie eens van al die restaurante se kos te praat nie.
For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

Related Articles

Back to top button