Skaatsplankryers se drome kry híér koers

Plaaslike skaatsplankryer Rynardt van der Merwe gesels oor skaatsplankry, sy nuutgeboude skaatsbaan en die stigma rondom die sportsoort.

POLOKWANE – “Jy wil nie gerook of gedrink wees as jy skaatsplank ry nie, want jy gaan val. Jy moet nugter wees sodat jy op die plank kan balanseer.”

Só slaan plaaslike skaatsplankryer Rynardt van der Merwe die stigma rondom dié sportsoort hok.

Rynardt het reeds in die laerskool sy eerste skaatsplank gekry. Voor dit was hy gereeld op ‘n fiets of rolskaatse. “My eerste plank was ‘n Tony Hawk-skaatsplank. Ek het al intussen talle skaatsplanke gehad en kan nie met sekerheid sê hoeveel ek al besit het nie.”

Die kranige skaatsplankryer het onlangs ‘n skaatsbaan by sy huis ingerig waar inwoners hulself touwys kan maak oor die sportsoort. “Skaatsplankry is nou ‘n Olimpiese sportsoort en ek wil inwoners help om hulle vaardighede te verbeter, sodat hulle dalk eendag aan die Olimpiese Spele kan deelneem. Dit is ‘n ongelooflike gevoel om na baie harde oefening iets reg te kry en dié gevoel is vir my die beste deel van die sportsoort.”

Rynardt vertel enigeen kan by die baan kom skaats, maar dat kinders onder ouer toesig moet wees. Daar is geen ingangsfooi nie, maar inwoners word gemaan om ‘n bydrae te maak om die baan in stand te hou.

Die wat nog nooit skaatsplank gery het nie, hoef nie te kommer nie aangesien Rynardt gereed staan om nuwe skaatsplankryers te help.

Lees meer van die skaatsbaan en Saterdag (9 Julie) se opedag in vandeesweek se Polokwane Observer.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group
Exit mobile version