Local NewsNews

Inwoners staan tou om saam te lyndans

Wilma se klasse duur sowat 'n uur, maar almal geniet die pret so baie dat die musiek dikwels eers na twee ure afgesit word.

MOKOPANE – Hak, toon, draai en hop is als deel van lyndans wanneer die dorp se jonger en ouer garde in die week bymekaarkom om saam, op die ritme van bekende liedjies, danspassies te oefen.

Wilma Nel (62) is die voorbok wat met groot entoesiasme en baie geduld die dansers leer.

Dit is koud vanoggend hier onder die grasdak van die saal by die Kameeldoring Gholfklub, maar die saam dans laat jou vergeet van die ysige wind wat om die hoek sny.

Wilma wys vir Annerie Prinsloo en Thelma Mentz hoe die dans gedoen moet word,

Wilma vertel sy het 30 jaar by die munisipaliteit gewerk voordat sy sowat sewe jaar gelede besluit het om op vroeë aftrede te gaan. Dit was toe dat sy haar liefde vir dans kon begin uitleef deur lyndansklasse aan te bied by die Potgietersrus Dienssentrum vir Bejaardes en die Piet Potgieter Monument Ouetehuis.

“Die bejaardes het opgewonde hulle tekkies of stewels aangetrek en daar was ook ‘n paar manne wat kom saam dans het.”

Deesdae is Wilma ook aan die dans saam met werkende mense vir wie sy klasgee by die gholfklub. Jonk en oud kom hier byeen om op gewilde liedjies te cha-cha, te wals of op ‘n countryliedjie reg te trap.

Wilma Nel leer die dansers.

Wilma se klasse duur sowat ‘n uur, maar almal geniet die pret so baie dat die musiek dikwels eers na twee ure afgesit word.

“Met my ondervinding oor die jare het ek besef dat ek nie die woord ‘maklik’ moet sê nie, want iets wat vir my maklik is, is dalk nie vir die ander persoon op die dansvloer so maklik nie. Ek sê altyd vir die dansers om te vergeet van die dinge wat pla, want hier moet ‘n mens konsentreer, anders trap jy verkeerd of vergeet wat die volgende stap is.”

Lyndans is ‘n oefening wat jou hart vinniger laat klop en jy span terselfdertyd jou brein in om te onthou wat die volgende stap is.

Wilma Nel aan die dans.

Wilma sê musiekkeuse is vir haar belangrik. “’n Liedjie, met ‘n vinnige of stadige tempo, moet ‘n sekere ritme hê wat lekker op die oor val.

Die verskillende stappe word gedoen op die maat van die musiek om die maksimum genot daaruit te put. Dit is my passie om almal wat van dans en musiek hou, te leer.”

Sy vertel as sy ‘n liedjie hoor waarvan sy hou gaan doen sy haar huiswerk op die internet om die nodige stappe te gaan leer.

Elkeen wat kom saam dans vorder op hulle eie pas. Party leer vinniger as ander, daarom het sy ook verskillende klasse. Dans is werklik ‘n gesonde aktiwiteit wat deur jonk en oud beoefen kan word.

Wilma gee tans Maandae om 08:00 klas by die ouetehuis en is vanaf 16:00 by die gholfklub. Sy gee ook Vrydae om 08:00 by die dienssentrum klas. Skakel haar by 082 844 9301 as jy belangstel.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

Related Articles

Back to top button