KidsLocal NewsNewsParenting News

Sielkundige gee raad oor ouerskap

Dr. Johannalie Knoetse deel raad oor gedragsverandering en alternatiewe metodes om dissipline toe te pas.

POLOKWANE – “Ouers is net mense, hulle mag ook foute maak.”

Só sê dr. Johannalie Knoetse tydens ‘n inligtingsaand wat onlangs deur Serving Kids Through Community aangebied is. Knoetse het ouers geleer oor gedragsverandering, alternatiewe metodes om dissipline toe te pas, asook emosionelebestuur en hanteringsmeganismes gegee.

“Emosionele intelligensie is belangrik en kom daarop neer dat jy bewus is van sekere emosies. Wees bewus van jou emosionele taal en hoe om jou emosies verbaal uit te druk. Verbreed jou kind se emosie-woordeskat, want dit stel hulle in staat om te kommunikeer hoe hulle voel.”

Sy verduidelik hoe ‘n mens te werk moet gaan. “Eerstens moet jy die emosie identifiseer, byvoorbeeld: Die boelie wat jou seermaak is op pad na jou toe. Dan moet jy identifiseer wat die emosie wat jy voel aan jou lyf doen. Dié emosie laat jou huil of maak jou kwaad. Derdens moet jy ‘n plan hê. Indien jy drie planne het, voel jy klaar in beheer. Sit met jou kind en help hom om drie planne te maak vir wanneer hy kwaad is.”

Hierdie planne is praktiese goed soos asemhalingsoefening, om water te drink of om ‘n kort afstand te hardloop. Teen die tyd wat jou kind hierdie planne uitgevoer het, is hulle reeds meer kalm oor ‘n situasie. “Dit is belangrik om te reflekteer op jou eie emosies. Hoe bestuur jy as ouer jou emosies? Vra jou kinders wat jy doen as jy kwaad is.”

Gedragsverandering

Knoetse noem dat dissipline nie slegs op straf moet fokus nie. “Fokus ook op gedragsverandering. Maak ‘n gedragskaart met drie kolomme naamlik roetine, gedrag en take.”

Die roetinekolum is vir wanneer jou kind take soos om hulle bed op te maak, uitvoer. Indien jou kind dit doen, ontvang hulle ‘n ster. As hulle dit verkeerd doen, kry hulle ‘n kol.

In die gedragkolom fokus jy op die gedrag waarmee die kind sukkel wat jy wil hê jou kind moet afleer soos steel of vloek. Jy kan ook in dié  kolom fokus op die gedrag waarvan jy hou en wil bevorder, soos omgee. Beloon dié gedrag met ‘n ster.

By die takekolom kry hulle ‘n ster vir take wat hulle doen wat ‘n verskil in die huishouding maak, soos om die hond kos te gee. “Gee vir elke kind twee bottels. Een bottel is die ouer sin en gevul met belonings. Die ander bottel is leeg. Aan die einde van elke dag kan die kind een item uit die ouer se bottel uitneem indien hulle daardie dag ‘n ster op hulle gedragskaart ontvang het. As dit ‘n kolledag was, kan die ouer iets uit die kind se bottel haal. So probeer die kind elke dag om goed in die bottel te kry en dit daar te hou,” verduidelik sy en noem dat die kind dan op Saterdag sy bottel ontvang. Dit wat in hulle bottel is, hulle beloning.

Knoetse sluit af deur te sê mens moet ouderdomsgepaste items in die bottels sit, soos skryf ‘n sekere aantal skermtyd op ‘n papier vir tieners.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

Related Articles

Back to top button