Ervare pa’s deel hulle geheim tot vaderskap

Review het met ervare pa's gesels om te hoor watter raad hulle aan voornemende pappas kan gee.

POLOKWANE – Vadersdag is een dag in die jaar, gewoonlik die derde Sondag in Junie, waar pa’s regoor die land bederf word.

Sommiges kry dalk slegs koffie in die bed, terwyl ander met ‘n maaltyd bederf word. Ongeag hoe groot of hoe klein hierdie ‘dankie’ is, dit maak pa se hart warm.

Voornemende pappas mag dalk vanjaar vir die laaste keer op dié dag nie ‘n pa wees nie. Opgewonde, maar effens bang, soek hulle na raad en wie anders as pa’s wat al baie ervaring opgedoen het, om dit te verskaf.

Khell van der Lith

Elke kind word met sy eie beursie gebore. Jy sal ‘fine’ wees. Doeke en melk is baie duur, maar snaaks genoeg, daar is altyd geld vir dit.
Help jou vrou met die baba-take soos opstaan in die nag, badtyd en melk maak. Daai twee minute langer wat mamma kan inlê help haar baie. Laat baba maar ‘n bietjie by julle slaap. Dit hou ook net so lank dan word hulle tieners en dan wil hulle niks met jou te doen hê nie.
Jy het gehelp bou, help grootmaak.

Piet Niemann

‘n Pa is die beste leermeester, stel ‘n voorbeeld vir jou kind hoe en wat liefde, respek en verantwoordelikheid is, en hoe om jou medemens te dien. ‘n Kind kyk op na sy pa dus moet jy simpatie en empatie met jou kind hê en met goeie en opregte dissipline hom opvoed. Ja ‘n pa mag ook huil en hartseer wees, dit is nie nodig om altyd sterk te wees nie.

Gerhard Booysen

Gee jou kind die vryheid om hom- of haarself te wees. Onvoorwaardelik en nie hoe jy hulle sou verkies om te wees nie.

Pieter Brittion

‘n Pa is ‘n dogter se eerste groot liefde en ‘n seun se rots. Staan hulle by en gee hulle liefde en aandag. Spandeer soveel moontlik tyd saam met jou kinders. Dit is belangrik vir jou kinders om te weet dat jy daar is vir hulle en dat hulle oor alles met jou kan gesels. Hulle sal jou waardeer vir dit. Soms soek hulle net ‘n skouer om op te huil of ‘n bemoedigende druk om te sê ‘ek is trots op julle’. Hierdie maak ‘n groot verskil vir ‘n kind.

Pieter Engelbrecht

Leer jou seun goeie waardes en om ander mense te respekteer. Leer hom om God eerste in sy lewe te stel en dat ‘n mens nie sonder God kan leef nie. Leer hom om ‘n vrou te respekteer, om verantwoordelikheid vir sy dade te neem en dat elke keuse gevolge het. Leer hom van geld en om te werk vir wat hy wil hê. Leer hom om te leef en nie net te bestaan nie. Leer jou dogter hoe ‘n man moet optree en haar moet behandel, en dat elke man nie dieselfde is nie. Leer haar om haarself te ken en te weet wie sy is. Stel vir haar die voorbeeld van hoe haar man haar eendag moet behandel – met liefde en respek. Leer haar bid en om onvoorwaardelik lief te hê.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group
Exit mobile version