Local NewsNews

Polokwane GPF: Bied hulp in plaas van kontant

Die toename van bedelaars en diefstal by die verkeersligte en ander kruisings in die stad lei tot verskeie uitdagings vir reaksiegroepe soos die GPF.

Verlede week het Fergus Rosslee, die waarnemende voorsitter van die Polokwane GPF, ‘n versoek aan motoriste gerig om nie kontant aan persone op straat te gee nie.

Die versoek kom na ‘n vroulike motoris kleingeld aan ‘n persoon gegee het. Dié bedrag was volgens inligting vir hom te min en hy het op die motoris gespoeg en ‘n duik in haar kar geskop.

“Ander mense koop weer dwelms. Ons kry hulle jammer en dit is menslik om te help, maar gee eerder kos as wat jy geld gee.”

Rosslee sê misdadigers gebruik dikwels kruisings as ‘n vinnige manier om motoriste te beroof. “Daar vind dikwels diefstal uit ‘n motor plaas terwyl die bestuurder in die motor sit. Een persoon nader die motor en trek die bestuurder se aandag af.

“Intussen loer ‘n medepligtige deur die passasiersvenster op soek na iets waardevol om te buit. Sou daar dan iets waardevol wees, slaan hy die venster stukkend en gryp die item.”

Rosslee stel voor dat motoriste eerder hulle vensters toe hou en die lugversorging gebruik.

“Sou jy met iemand moet praat, draai jou venster net op ‘n skrefie af. Bêre waardevolle items in die kattebak. Kwaaddoeners sal, as jou venster oop en jou selfoon naby is, die foon gryp en tussen die karre verdwyn. Dit is moeilik om hulle op te spoor aangesien hulle vinnig is en die gesteelde items onder mekaar versprei. Hou jou vensters toe, jou deure gesluit en die spieëltjies dop ter alle tye.”

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

Related Articles

Back to top button