Maatskaplike werker plaas die kollig op bejaardemishandeling

Op Wêreld Bejaardemishandelingsdag (15 Junie) gesels Louise Smit oor die tekens en vorme van bejaardemishandeling.

POLOKWANE – Verwaarlosing is slegs een van vele maniere hoe bejaardes mishandel word.

Só vertel maatskaplike werker Louise Smit aan Review op Wêreld Bejaardemishandelingsdag (15 Junie).

“Elke mens verdien om gerespekteer te word, veilig in hulle woning te wees en waardig te voel. Net soos kinders en vroue mishandel kan word, word die bejaardes in ons samelewing ook mishandel. Hierdie mense kan dikwels nie alleen na hulleself omsien nie en is dus afhanklik van mense vir hulle welstand.”

Vorme van bejaardemishandeling:
• Fisiese mishandeling.
• Emosionele mishandeling.
• Seksuele mishandeling.
• Verwaarlosing.
• Finansiële uitbuiting.

“Om ‘n pensionaris se Sassa-kaart sonder hulle toestemming te vat en te hou is nie net onwettig nie, maar ook ‘n manier van finansiële uitbuiting. Wanneer ‘n kind hulle ouers of grootouers dwing om hulle testament te verander of om volmag aan iemand anders gee, is dit ook misbruik.”

Tekens:
• Kneusplekke.
• Krapmerke.
• Snye.
• Wanvoeding.
• Gebrek aan mediese sorg.
• Gedrag soos onttrekking, vrees en angs.

“Soms is dit maklik om agter te kom of ‘n bejaarde mishandel word, maar meer dikwels is dit nie so voor die hand liggend nie. Dit is belangrik om na ‘n bejaarde te luister want jy sal agterkom as iets verkeerd is. ‘n Algemene vorm van bejaardemishandeling wat deur versorgers van ouer persone gesien word, is selfverwaarlosing. Wanneer ‘n persoon, om watter rede ook al, nie vir hulleself meer kan sorg nie, vind selfverwaarlosing dikwels plaas.”

Selfverwaarlosing:
• Gebrekkige persoonlike higiëne.
• Dehidrasie.
• Wanvoeding.
• Ondergewig.
• Vuil huislike omstandighede.

”Geld speel hier dikwels ‘n faktor aangesien die bejaarde nie geld het om ordentlike kos te koop of medikasie te kry nie. Selfverwaarlosing kan ‘n teken van depressie, alzheimersiekte, demensie of enige ander gesondheidsprobleem wees. Soms ontken hulle hul situasie en sodoende weier hulle om hulp te kry of hulle is bang om hulle onafhanklikheid te verloor en skaam om hulp te vra.”

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group
Exit mobile version