Local NewsNews

Háár bloed en plasma maak ‘n daadwerklike verskil

Corné Schoeman gesels op Wêreld Bloedskenkersdag (14 Junie) met Review oor waarom dit belangrik is om jou hart en are vir die gemeenskap oop te maak.

POLOKWANE – Vandag (14 Junie) word Wêreld Bloedskenkersdag gevier om skenkers te bedank vir hulle onbaatsugtige opoffering om lewens te red deur bloed te skenk.

Dié dag is ook daar om bewusmaking te skep oor die nood vir bloedskenkings.

Review het met ‘n gereelde skenker, Corné Schoeman, gesels oor waarom dit belangrik is om te skenk, en waarom sy dit doen.

Schoeman is een van ‘n klein groep mense in wie se are die AB+-groep se bloed vloei. Hierdie bloedgroep se bloed is die meeste in aanvraag vir plasma skenking

Sy het op die ouderdom van 21 vir die eerste keer bloed geskenk omdat sy ‘n verskil in iemand anders se lewe wou maak. “Ek wou destyds ‘n verskil in my gemeenskap maak en dit het nog nie verander nie. Om bloed of plasma te skenk gee my ‘n goeie gevoel, want ek weet ek kan iets vir iemand anders beteken.”

Corné het elke 56 dae bloed geskenk, maar toe later ‘n plasma skenker geword aangesien haar bloedgroep se plasma deur enige van die ander bloedgroepe gebruik kan word.

“Ek handhaaf ‘n gesonde leefstyl en sorg dat my ystervlakke hoog is deur veral groen groente te eet. Dit is vir my lekkerder om plasma te skenk aangesien ek weet ek is een van min mense wat dit wel kan doen. Dit vat wel langer om plasma te skenk as om bloed te skenk, en ek sit vir drie siklusse van 15 minute elke 14 dae. Dit is hoe lank die masjien vat om die plasma te skei.”

Polokwane se skenkerskliniek is een van min skenkersklinieke wat oor ‘n plasmamasjien beskik. Dié masjien skei die plasma van die res van die bloedkomponente. Die plasma word in ‘n sak versamel en die ander komponente soos die rooibloedselle, bloedplaatjies en witbloedselle word terug in jou liggaam gesit.

Daar word ongeveer 650ml plasma op ‘n slag getrek.

Die Suid-Afrikaanse Nasionale Bloeddiens het elke dag 3 000 eenhede bloed nodig om aan die aanvraag te voldoen. Hoe meer gereeld ‘n mens skenk, hoe groter is die kans dat jou bloed veilig is.

So maak ‘n verskil en red ‘n lewe deur die bloedbank in Potgieterylaan te besoek.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

Related Articles

Back to top button