Só sal Tannie Naomi de Jager onthou word

Tannie Naomi de Jager, 'n oud-inwoner van Polokwane en voormalige eienaar van Review, is op 1 Junie oorlede.

POLOKWANE – Sy was 86 jaar oud en het in Pretoria gewoon ten tyde van haar dood.

Naomi en haar man, die afgestorwe Robert, het mekaar ontmoet toe hulle beide destyds as verslaggewers gewerk het.

Hulle is op 21 Maart 1964 getroud, en het in 1975 die eienaars geword van die Northern Review, vandag bekend as die Polokwane Review en die besigheid vanuit bankrotskap gered en tot sy eertydse glorie herstel.

Twee kinders is uit hul huwelik gebore, Marietjie Genis en Deon de Jager.

In Junie 2020 het hulle besluit om na Lynnwood in Pretoria te verhuis. Robert is in dieselfde jaar, in November oorlede.

Naomi het aan Alzheimersiekte gely en kon sedert verlede jaar nie meer self loop nie.

Marietjie onthou haar ma as iemand met eindelose liefde vir ander mense.

Deon beaam dit en sê sy het met almal oor die weg gekom: “Sy was ‘n verpersoonliking van God se liefde op aarde.”

Naomi se hart het by liefdadigheid gelê en sy het, saam met Marina van Eeden die eerste kreupelsorgstigting gestig.

Marina, wat baie nou saam met Naomi gewerk het, vertel Naomi was ‘n wonderlike, netjiese vrou wie se hande vir niks verkeerd gestaan het nie.

“’n Mens kon altyd op Naomi staatmaak. Haar ‘ja’ was haar ‘ja’ en haar ‘nee’ haar ‘nee’, maar tussen dit het sy ‘n groot hart vir almal om haar gehad. Niks was vir haar teveel moeite as dit by gestremdes en haar medemens kom nie. Sy is die vrou wat ek ken wat die hardste gewerk het. Sy was ‘n wonderlike vrou vir Robert en ‘n goeie ma vir Marietjie en Deon. As daar ‘n geldinsamelingsprojek was, was daar nie ‘n gelyke aan Naomi nie. Sy kon nooit stilsit nie.”

Naomi se kleindogter, Yolandi Cilliers, het die volgende eerbetoon op Facebook geplaas:

‘Liefste Ouma, Ouma was vir my ‘n kosbare vriendin, met wie ek my diepste gedagtes en gevoelens kon deel. Ouma het altyd geluister sonder om te oordeel en goeie raad gehad vir elke situasie. Ek verstaan so goed hoekom al ons maatjies altyd wou gehad het Ouma moet hulle ouma ook wees.

‘Ons gaan Ouma vreeslik verlang. Darem het ons nie net ‘n tassie nie, maar ‘n pakhuis vol gelukkige herinneringe, wat ons gaan onthou, totdat ons Ouma weer sien.

Ek weet Ouma gaan, net soos op aarde, nie veel rus in die hemel nie. Nou kan Ouma al die engele vermaak met Ouma se skerp humorsin en weer lekker saam met Oupa jive en sing.’

Naomi word oorleef deur haar kinders, Marietjie en Deon, en kleinkinders.

Haar begrafnis vind plaas op 10 Junie om 11:00 vanuit die N.G. Kerk Lynnwoodgemeente.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group
Exit mobile version