Moths kuier gesellig saam by gala-dinee

Lede van die Botha Skuilgat (Shellhole) van die Agbare Orde van die Staaldakke (Moths) het verlede Saterdagaand 'n gala-dinee by die skuilgat aangebied, daar is ook geld ingesamel vir projekte.

POLOKWANE – Platejoggies Archie Shamley en JP Duvenage het gesorg vir die regte atmosfeer met strelende musiek en nadat gaste die voortreflike ete bestaande uit gebraaide varkboud, hoenderstukke met ‘n mosterd- en heuningsous, geroomde spinasie, pampoenkoekies en rys en ‘n Griekse slaai genuttig het, het die musikante losgetrek met ‘n verskeidenheid ou treffers wat menigeen na die dansvloer gelok het.

Platejoggies Archie Shamley en JP Duvenage sorg vir die regte atmosfeer by die gala-dinee.

Die skuilgat se bevelvoerder (Old Bill), Anton le Roux, het verduidelik dat die skuilgat en die Peacehaven Behuisingskompleks met sy 18 woonstelle deur die Moths bedryf en ondersteun word en grootliks afhanklik is van die publiek vir finansiële hulp.

“Hierdie funksie se opbrengs, sowel as al ons ander projekte se inkomste word net so teruggeploeg,” het Le Roux verduidelik. “Die Moths is ‘n militêre veterane-organisasie en ons reik uit na oudgediendes en hul families maar is ook betrokke by voedingsprojekte by skole,” voeg Le Roux by.

Gerrit Visser, Alta Coetzee en Martie Botha kuier gesellig saam.

Le Roux het aangekondig dat die Moths op 28 Mei ‘n potjiekoskompetisie by die skuilgat aanbied.

Daar sal stalletjies beskikbaar wees, asook ‘n uitstalling deur lede van die Verkenningskommando (recces) en ‘n dagmark.

Na die kompetisie sal die kos te koop aangebied word en Le Roux het groot verwagtinge dat die dag sterk ondersteun sal word. “Kom ondersteun ons en wys dat u omgee,” vra hy. Nadat malvapoeding met vla bedien is, is die aand afgesluit met ‘n veiling waartydens ‘n brandewynversameling en bottels uitvoerwyn onder die hamer gekom het en kopers hul harte en beursies oopgemaak het om die sukses van die funksie te verseker.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group
Exit mobile version