Local NewsNews

Inwoners die herrie in oor dié vuil park

Inwoners van Eduanpark en verbygangers is ontstoke oor die toestand waarin die Tom Naudépark gelaat is nadat 'n groot groep partytjiegangers verlede naweek in die park uitgespan het.

POLOKWANE – Te oordeel aan die groot hoeveelheid drankbottels wat oral rondgelê het, was drankgebruik aan die orde van die dag en het gebruikte koshouers en papier- en plastieksakke die geriewe soos ‘n ashoop gelaat.

Volgens Franco Marx, DA raadslid in Wyk 39, is inwoners besig om ‘n petisie op te stel en gaan die DA ook ‘n skriftelike navraag tydens die volgende raadsvergadering ter tafel lê. Die DA wil weet of daar enige toestemming vir ‘n funksie verleen is en indien wel, waarom die munisipale amptenare nie opgetree het nie, aangesien die raad se verordeninge wat geraas beheer, ook oortree is. Die feit dat daar geen ablusiegeriewe was en die omgewing as toilette gebruik is, was vir verbygangers ‘n steen des aanstoots.

Foto’s: Susan Maritz Clarke

DA raadslid Jacques Joubert het ook die park besoek en sê dat die DA dit onaanvaarbaar vind dat die park sowel as ander parke al hoe meer ‘n vergaderpunt word vir openbare drinkery.

“Gemeenskapsveiligheid saam met die Suid Afrikaanse Polisiediens kan aansienlik meer doen om die probleem hok te slaan,” glo hy en daag die burgemeester uit om daad by woord te voeg om die stad se parke weer areas te maak waar families veilig tyd kan deurbring. “Die waarnemende munisipale bestuurder het by ‘n onlangse strategiese beplanningsessie van die stadsraad hierdie spesifieke geval genoem na hy oorval was deur klagtes. ‘n Inwoner wat verkies om anoniem te bly, beweer dat ‘n partytjieganger wat deur hom aangespreek is, net sy skouers opgehaal het en gesê dat rommelstrooiery werk skep en dat dit niks met ‘n gebrek aan opvoeding te doen het nie.

Munisipale woordvoerder Thipa Selala het in reaksie op ‘n versoek om kommentaar aangevoer dat die park nog nie gereed is vir verhuring vir funksies nie omdat die nodige ablusiegeriewe nog voorsien moet word. Volgens hom word funksies wel toegelaat nadat toestemming van die Gesamentlike Operasionele Komitee (JOC) waarvan die SAPD die voorsitter is, verkry is en voorwaardes opgelê is.

“Die munisipaliteit sal ondersoek instel om te bepaal of enige toestemming vir ‘n funksie verleen is,” het Selala onderneem maar kon nie aandui of die funksie formeel aangebied of spontaan plaasgevind het nie.Selala het egter bevestig dat die munisipaliteit beoog om binnekort ablusiegeriewe in die park op te rig en dat die ontwerp daarvan reeds voltooi is. Die munisipaliteit sal dan die fasiliteit verhuur vir funksies en streng beheer uitoefen, sê Selala.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

Related Articles

Back to top button