Levubumoorde: Polisiehoof sit soekspan bymekaar om skuldiges te vind

Polisiewoordvoerder, Luitenant-Kolonel Malesela Ledwaba het bevestig dat die aanvallers die boer en sy vrou vasgebind het en hulle plaashuis na die rooftog aan die brand gesteek het.

LIMPOPO – Die Provinsiale Polisiekommissaris, Luitenant Thembi Hadebe het instruksie gegee vir ‘n 72-uur aktiveringsplan om die skuldiges op te spoor wat betrokke was by die moord op ‘n boer en sy vrou in Levubu, naby Louis Trichardt op Woensdag, 20 April.

Die egpaar is geïdentifiseer as Louis en Ina Cloete.

Polisiewoordvoerder, Luitenant-Kolonel Malesela Ledwaba het bevestig dat die aanvallers die boer en sy vrou vasgebind het en hulle plaashuis na die rooftog aan die brand gesteek het.

Daar is kort daarna op die man en vrou se lyke afgekom in die huis wat heeltemal afgebrand het.

“’n Verbyganger het onraad vermoed nadat daar twee persone op die perseel gesien is wat gepoog het om in ‘n voertuig te vlug wat aan die boer behoort. Hulle het egter van dié plan afgesien toe hulle besef iemand het hulle gesien, en op die vlug geslaan. Hulle het die voertuig met die gesteelde goedere daarbinne, agtergelaat. Nadat die polisie in kennis gestel is, het ons gaan ondersoek instel en op twee persone se lyke afgekom.”

‘n Span speurders van provinsiale-, distriks- en stasievlak is opdrag gegee om die skuldiges op te spoor.

“Ons doen ‘n beroep op die gemeenskap om vorendag te kom met enige inligting wat die polisie kan help om hierdie wrede misdaad op te los,” het Hadebe opgemerk.

Enigeen met inligting kan die ondersoekbeampte, Kaptein Mashudu Lesley Muneri skakel by 082 469 1260, of die Stop Misdaadlyn by 08600 10111, of hulle naaste polisiestasie.  

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group
At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version