Atleet Bobby Sacco het diep spore getrap

Sacco is Maandagmiddag oorlede nadat hy vroeër in die hospitaal opgeneem is en 'n biopsie ondergaan het omdat 'n gewas by hom opgespoor is.

POLOKWANE – Die stad se atletiekgemeenskap het met leedwese kennis geneem van die afsterwe van Bobby Sacco (66) en sy heengaan sal ‘n groot leemte in sy familie- en vriendekring laat.

Sacco is Maandagmiddag oorlede nadat hy vroeër in die hospitaal opgeneem is en ‘n biopsie ondergaan het omdat ‘n gewas by hom opgespoor is. Die presiese oorsaak van sy dood is nog nie bevestig nie.

Sy vrou, Winnie onthou hom as ‘n ware eggenoot en ‘n vader vir sy kinders.

“Ons was verenig in ons onvolmaaktheid en baie mense het na ons verwys as ‘n tweeling. Ek het hom sterk ondersteun in alles wat hy aangepak het en hom selfs na byeenkomste in Kaapstad en Durban vergesel. Hoewel ons belowe het om saam te wees ‘until death do us part’, het ek nooit aan sy dood gedink totdat dit ‘n realiteit geword het nie en was sy dood vir my ‘n groot skok,” sê Winnie en vertel dat sy en sy suster saam met sy seun en drie dogters uit ‘n vorige huwelik, teenwoordig was toe hy oorlede is.

Lees meer: VIDEO: Leef gesond en hardloop rond, sê Bobby 

Jarelange vriend en voormalige konsessiehouer van Run/Walk for Life, Kobie Marais onthou Sacco as ‘n topatleet teen wie hy self deelgeneem het.

“Die nuus van sy heengaan het ons diep getref. Hy was so saggeaard en ‘n voorbeeld vir almal, veral vir die jong atlete wat hy met raad en daad bygestaan het. Hy was aktief betrokke by die opleiding en slyp van ander klublede se vaardighede. Ons harte gaan uit na sy familie en die atletiekgemeenskap van Polokwane gaan hom baie mis,” sê Marais wat bykans 24 jaar bestuurder van die klub en tot onlangs ook voorsitter van die klub was.

“Bobby ek gaan jou mis, jy het my laat opstaan om te oefen en aan wedlope laat deelneem, jy het my laat wen, jy was my tweelingbroer met twee jaar verskil. Rus in Vrede!” skryf sy broer Jannie op sosiale media.

“Bobby was ons hardloopmaat en familievriend. Sy lewenslustigheid, borrelende geaardheid, sin vir humor en passievolle gees is sy nalatenskap wat ons vir altyd sal koester. Tot ons weer sien,” is die boodskap van Elsabé, Trompie en JP Cronjé.

Bobby Sacco, naasregs met hardloopvriende Trompie, JP en Elsabé Cronjé.

Teen druktyd was die begrafnisreëlings nog nie bekend nie.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group
At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Exit mobile version