Hou moed, sê ma met outistiese kind

Vandag (2 April) is dit Wêreld Outisme Bewusmakingsdag en Review het met Melissa Sterckx gesels oor haar ervarings as ma van ‘n kind met outisme.

POLOKWANE – Talle uitdagings staar ‘n ouer van ‘n outistiese kind in die gesig.

Review het met Melissa Sterckx gesels oor haar ervarings as ma van ‘n kind met outisme en sy deel dat Jordan (14) as kleuter reeds moeilik was. Sy taalontwikkeling was agter en toe hy vier jaar oud was, het Melissa hom na ‘n spraakterapeut geneem.

“Jordan het snaaks gepraat en sy sinne het slegs uit twee woorde bestaan. Hy het ook glipsies gekry en dit was moeilik om hom van die doek af te kry. Hy was ongeveer vyf jaar oud toe hy met Asperger se steuring gediagnoseer is.”

Behalwe vir sy gebrekkige taalontwikkeling, was Jordan ‘n eenkantkind. Volgens Melissa is hy bang vir niks en het ‘n uitermatige hoë pyndrempel. Hy was impulsief en het van een uiterste na ‘n volgende beweeg en goed gedoen wat gevaarlik is. “Hy is teensinnig en glad nie bang vir gesag nie.”

Skool toe gaan was een groot uitdaging vir die gesin. Jordan was aggressief en kon nie konflik hanteer nie.
“Hy is baie slim met wiskunde en wetenskap, maar hy kan net nie regkom met tale nie. Hy kan nie lees nie. Hy moet nou in gr. 9 wees, maar is nou eers in gr.5.”

Melissa sê Jordan is uitdagend en in sosiale situasies tree hy nie altyd aanvaarbaar op nie. “Hy het geen takt nie, sê wat hy wil en is nie gepla oor die gevolge nie. Hy stel my soms in die verleentheid en maak dinge ongemaklik. Ek het begin voel ek wil nie meer uitgaan of gaan kuier nie.”

Alles is nie altyd net sleg nie, vertel Melissa. Jordan het later in sy lewe liefdevol geraak en ma en seun kom nou goed oor die weg. Hy is lief vir sing en dans en glad nie skaam nie.

Ouers van outistiese kinders kan saamgesels oor emosionele en fisiese ineenstortings. Melissa vertel hoe ouer Jordan geword het, hoe erger het dit geraak. 

“Dit is vir my ‘n teerpunt aangesien dit die rede is waarom hy van 11 jaar oud af by sy pa bly. Hy is baie sterk en ek kon hom net nie meer hanteer nie. Dit het my werk geaffekteer. Hy het ‘n sussie wat twee jaar van hom verskil, en hy het haar seergemaak. Sy pa is baie goed met hom en Jordan luister vir hom. Hulle kom goed klaar en hy kuier sommige naweke en vakansies by my.”

Melissa erken sy verwyt haarself dat Jordan nie by haar bly nie, sy voel of sy haar kind weggegooi het. Dit voel ook vir haar of ander mense haar daaroor oordeel.

“Die aakligste ding wat ‘n vreemdeling vir my kan sê is dat ek my kind weggegooi het deur hom by sy pa te laat bly. Of dat ek nie streng genoeg is nie en hy ‘n goeie pakslae nodig het. My raad aan ander ouers is om alles te probeer en te kyk wat werk. Gebruik die medikasie wat die dokter voorskryf, woon die terapie by. Moet ook nie te veel van jou kind verwag nie. Fokus daarop om vir hom lewensvaardighede te leer en gee eerder ‘n ander straf as pakslae. Jy en jou mede-ouer moet op dieselfde bladsy ten opsigte van behandeling wees.”

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group
At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version