Local NewsNews

JP Zeelie se enkelsnit ‘Collide’ kry sy sololoopbaan op koers

JP het dié enkelsnit Saterdagaand (26 Maart) vrygestel tydens Sweet November, van wie hy 'n lid is, se optrede.

POLOKWANE – November 2006 sal altyd vir die Zeelie-broers ‘n spesiale tyd wees. Dit is in daardie tyd wat hulle baba, die musiekgroep Sweet November, op die been gebring is.

Ruan speel die dromme, Armandt is op die elektriese kitaar en JP tokkel die akoestiese kitaar en tree as voorsanger op. Hulle eerste optrede was voor ‘n winkelsentum op die sypaadjie en van daar af het hulle groep slegs gegroei.

Hulle ander broer, Kurt, het homself ook later by die groep aangesluit as baskitaarspeler. “Ons vier het vir ongeveer drie jaar saamgespeel as Sweet November.”

Die groep het vir ‘n tyd geen musiek gemaak nie aangesien Armandt en Ruan by ‘n plaaslike paneelklopper begin werk het, en JP verhuis het om sy kommersiële vliegtuiglisensie te kry.

“In 2016 het ek in Pretoria ‘n aanbiddingsessie gelei en hier het Riaan Benadé my genader. Ons het gesels en hy het by Sweet November aangesluit. Ons het egter soms net in Pretoria opgetree en as Riaan en JP Zeelie Live bekendgestaan.”

JP het in 2018 Thabazimbi toe verhuis en later homself in Oudtshoorn gevestig. In hierdie tyd het Riaan by Coleske Artists kontrak geteken en sy sololoopbaan begin.

“Teen die tyd wat die inperking in werking getree het, het ek alleen in ‘n huis gebly. Ek het tyd gehad om op my musiek te fokus. Ek het baie liedjies geskryf, maar nie die moed gehad om dit op te neem nie. Ek het gaan sit en op een liedjie gefokus en so is Collide gebore.”

JP het dié enkelsnit Saterdagaand (26 Maart) by die Grounded Container Bar vrygestel tydens Sweet November se optrede.

Hy sê die liedjie gaan oor twee mense wat by mekaar moet wees, maar nie by mekaar uitkom nie. “Die woorde: ‘All we need right now is a moment to collide’ verduidelik hoe mense wat vir mekaar bedoel is, soms verby mekaar lewe.” 

JP, wat die afgelope ses maande as JP Zeelie Live in George optree, sal ook eersdaags vyf ander enkelsnitte terselftertyd vrystel.

Lees meer oor Sweet November en hulle optrede in die Polokwane Observer.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

Related Articles

Back to top button