Tannie Anna vier haar 99ste verjaarsdag

Tannie Anna Smit het op 5 Maart haar 99ste verjaarsdag gevier en deel haar lewensreis met ons.

POLOKWANE – Statig met haar silwer hare netjies gekam en haar beste kerkrok aan, sit tannie Anna Smit by die tafel en inkleur.

Effens onbewus van wat gebeur as gevolg van die demensie wat ‘n paar jaar gelede by haar gediagnoseer is, hou sy haar dogter, Annatjie Joubert, in die kombuis dop.

Dit is 5 Maart en Annatjie skarrel rond in die kombuis om eetgoed gebak te kry want daar is immers gaste op pad om Tannie Anna se 99ste verjaardag te vier.

Tannie Anna vertel sy is in Heidelberg op ‘n plaas gebore. Sy was die tweede van ses kinders. Hier het sy grootgeword tot haar pa werk op ‘n myn gekry het en hulle dorpenaars geword het. “Ons het later Benoni toe getrek waar ek op skool was. Ek het net tot die destydse standard 6 (gr. 8) skoolgegaan en is toe na ‘n tegniese kollege toe.”

Hier het Tannie Anna geleer hoe om naaldwerk te doen en kort voor lank was sy ‘n kenner op die gebied. Sy het selfs trourokke en -pakke gemaak en bruide gehelp aantrek. Haar kinders se huise is vol stoele, tapisseries en ander items wat Tannie Anna deur die jare gemaak het.

Op 17 trou sy met James Geere en teen die tyd wat haar eerste van drie kinders gebore is, word sy ‘n tuisblyma. James het soos haar pa, in ‘n myn gewerk.

“Na James se dood in 1969, het ek weer begin werk. Die kinders was almal groot en kon self gaan werk.”

Baie jare na James se dood ontmoet sy vir Jannie Smit en nie lank daarna nie, haak die paartjie af en trou. Na sy afsterwe het Tannie Anna lank alleen gewoon tot sy onlangs by Annatjie ingetrek het.

Oor haar geheim om so oud te word sê sy net dat sy nooit gaan stilsit het nie. “Ek was altyd besig. Op 70 het ek nog by ‘n melkery gewerk en ek het steeds, tot so twee jaar gelede, naaldwerk gedoen. Op 72 jaar kon die kinders my uiteindelik oortuig om op te hou bestuur.”

Tannie Anna is in haar jonger jare twee keer met kanker gediagnoseer, maar beide kere kon sy dit oorwin. Sy is oor die algemeen baie gesond en drink nie pille nie.

“Behalwe vir die volwasse inkleurprente wat my besig hou, geniet ek dit ook om te lees. My kinders neem gereeld vir my boeke uit.”

Tannie Anna het drie kinders, sewe kleinkinders, 14 agterkleinkinders en ses agteragterkleinkinders. “Ek sou graag almal hier wou hê vir my verjaardag, maar as gevolg van omstandighede is dit nie moontlik nie.”

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group
Exit mobile version