Local NewsNews

Liefde seëvier stééds na 70 jaar vir oom Boet en tannie Hettie

Oom Boet en tannie Hettie van der Wath vier vanjaar hulle 70ste huweliksherdenking. Hulle deel hulle storie:

POLOKWANE – Na 70 jaar blom die liefde tussen oom Boet en tannie Hettie van der Wath steeds.

Polokwane Observer het by hulle gaan kers opsteek om te hoor wat hulle suksesresep op soveel gelukkige jare is.

“Ons het nog altyd ‘n gelukkige verhouding gehad met min uitdagings. Ons huwelik is in die vorm van ‘n driehoek waar God bo staan en ek en Boet onder. Dit is slegs deur Sy genade en deur Hom alleen wat ons huwelik staande bly,” deel tannie Hettie.

Sy noem dat soos hulle ouer geraak het, het oom Boet meer knorrig geraak. “Dit beteken egter nie dat ons konflik ervaar nie,” skerts tannie Hettie.

Boet en Hettie van de Wath op hul troudag, 70 jaar gelede.

Oor die jare moes tannie Hettie verskeie rolle aanneem. Sy het begin as ‘n sekretaresse en daarna verskeie gesinsrolle soos huisvrou en kinderversorger vertolk.

“My rol in die laaste paar jaar het verander en met liefde speel ek ook nou verpleër aangesien ek nou vir Boet moet versorg. Hy is nou in ‘n rolstoel en dis ook een van die redes waarom ons nie meer weg gaan met vakansie nie,” voeg sy by.

Tannie Hettie deel dat hulle hulp gehad het oor die jare en dat hulle gelukkig is om kinders en kleinkinders te hê wat na hulle omsien. “Ek het vier wonderlike dogters en die beste skoondogter in die land. Ons het vir ses jaar by ons jongste dogter, Jacolene Smit, en haar man, André, gebly, en bly nou by ons seun, Sias, en sy vrou, Hendrien.”

Alhoewel die familie ‘n hegte band het, is dit nie altyd moontlik om by mekaar uit te kom nie. “Gelukkig kan ons deur sosiale media kommunikeer en tannie Hettie het onlangs geleer hoe om met ‘n tablet te werk,” sluit sy af.

Lees meer oor hulle huwelik en die resep tot hulle liefdesukses in die Polokwane Observer.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

Related Articles

Back to top button