Doen jou deel vir Tekkie Tax want ‘saam is ons beter’

Saam is ons beter is die tema van vanjaar se Tekkie Tax wat op 27 Mei plaasvind.

POLOKWANE –  Na twee jaar wat die liefdadigheidsorganisasie gesukkel het om ‘n ordentlike geldinsameling te hou, het hulle onlangs aangekondig die projek is weer in volle gang.

Polokwane Observer het met Saartjie du Toit, huismoeder van Polokwane Nasorgsentrum, oor dié jaarlikse veldtog gesels.

“Ons is baie afhanklik van die inkomste wat ons by Tekkie Tax ontvang en die afgelope twee jaar was dit finansieel moeilik om staande te bly. Ons het 10 inwoners verloor wat net nie weer teruggekom het na die grendeltyd nie. Dit beteken ons het 10 inwoners se inkomste verloor.”

Tekkie Tax is ‘n sambreelorganisasie wat geld vir vyf onderafdelings insamel. Dit sluit in bejaarde sorg, diere, kinders, opvoeding en gestremdes. Onder elk van hierdie afdelings val daar verskeie liefdadigheidsorganisasies. “Ons is baie dankbaar teenoor die skole wat ons altyd ondersteun. Sommige van hulle het ons selfs gedurende die grendeltyd ondersteun en ons is ongelooflik dankbaar teenoor hulle. Skole is van ons grootste kliënte wat gereeld plakkers en skoenveters koop. Vir elke plakker wat ons teen R10 verkoop, kry ons R5 en vir elke stel veters wat ons teen R35 verkoop, kry ons R15. Daar sal ook ander handelsware te koop wees.”

Polokwane Nasorgsentrum is ‘n huis waar intellektueelgestremde volwassenes bly. Daar is tans spasie vir nog ‘n manlike inwoner. Daar is ook heelwat plek vir dagbesoekers.

Hulle kry twee etes per dag en word intellektueel gestimuleer met kuns en handvlyt-projekte, breiwerk, legkaartbou en hulle leer ook om ten minste hulle name te skryf.

Saartjie beoog om aan die van einde van Maart ‘n opedag te hou waar die publiek kan kom kyk wat die inwoners doen. Mense wat graag ‘n inwoner wil borg kan Saartjie skakel. “Ons wil graag ‘n kamer inrig waarin ons ouer mense kan versorg sou dit nodig wees. Van hulle is reeds 60 jaar oud en party het geen heenkome nie.

Om plakkers te bestel kan Saartjie geskakel word by 082 257 3857.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group
Exit mobile version