Mirinda hou die potte aan die kook in APD se kombuis

Mirinda Krüger het aan die begin van Februarie by APD Polokwane aangesluit as bestuurder van APD Catering.

POLOKWANE – Met ‘n vrolike glimlag groet Mirinda Krüger jou wanneer jy by haar kombuis by Eeufeeshuis inloer.

Alhoewel Mirinda ‘n ou bekende by die Vereniging van Persone met Gestremdhede (APD) is, is sy ‘n nuwe lid van die Polokwane-gemeenskap.

“Mense en kosmaak is my passie. As ek vir mense lekker kos kan gee, is ek in my element.

“Ek glo elke keer as ‘n mens eet, moet dit ‘n feesmaal wees. Jy moet elke ete spesiaal maak, al is dit net koffie en beskuit. Kos moet ook mooi vertoon wanneer dit bedien word.”

Voor Mirinda na Polokwane verhuis het, het sy in Oos-Londen gebly. Voor dit was sy vir sewe jaar in Bloemfontein by APD Vrystaat die operasionele bestuurder.

Sy is ook ‘n gekwalifiseerde maatskaplike hulpwerker en versorger.

“My werk is vir my belangrik en om mense te help maak my gelukkig. Ek het met die intrapslag hier gevoel asof ek al jare hier bly. Die omgewing is rustig en die sonsondergange pragtig. Dit voel soms asof ek in die wildtuin is.”

Haar pligte behels om kos te voorsien vir funksies, partytjies, babatees, verlowings en enige ander sosiale geleentheid.

“Ons sal iets maak selfs al is dit nie op ons lys nie en beoog om meer aktief op Facebook te wees. Veral met Paasfees, Moedersdag en Vadersdag om die draai.”

Mirinda is ‘n ma van een en ook ouma van een.

Sy is lief daarvoor om tyd in die natuur deur te bring, te swem en te stap. Sy is ook altyd gereed vir ‘n braai.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group
Exit mobile version